Bulls speel sommer twee wedstryde op een dag

John Mitchell (Foto: Facebook)

Die Bulls wil aanstaande jaar in die voorseisoense wedstryde maak soos die Westelike Provinsie vroeër jare toe hulle twee Curriebekerwedstryde op dieselfde dag en in verskillende sentra gespeel het.

Opwarm en die Curriebeker is seker nie dieselfde ding nie, maar die Bulls speel op 27 Januarie met twee verskillende spanne teen die Lions in Johannesburg en teen die Stormers in Polokwane.

(In 1929 kon die bepalingskomitee nie al die estelike Provinsie se wedstryde inpas nie en WP het toe die vreemdste reëling aanvaar om twee Curriebekerwedstryde op een dag te speel! WP het egter die diepte gehad om dit te kon doen. Hoewel hul “A-span” met 11–9 teen Transvaal in Johannesburg pak gekry het, het die “B-span” darem vir Grens 24–3 op Nuweland geklop. En hulle het boonop die Curriebeker gewen!)

Die Bulls se dubbelbepaling bied aan hulle die geleentheid om ʼn ekstra week voor te berei en nogtans aan al die spelers speelkans in ʼn wedstryd te bied.

En daarna volg nog ʼn nuutjie vir die Bulls wanneer hulle ʼn week later, op 3 Februarie, in Los Angeles teen die Stormers speel – hul eerste besoek aan  die VSA.

Na hierdie oorsese wedstryd het hulle darem ʼn volle drie weke, meer as genoeg tyd, om van die vlugflouheid te herstel en ook verder te skaaf voordat hulle op 24 Februarie teen die Hurricanes op Loftus in  hulle eerste wedstryd van die kompetisie met sy nuwe struktuur sal speel.

Die Bulls het ʼn loslootjie op 17 Februarie wanneer die Stormers wel tuis teen die Jaguares sal moet uitdraf.

Twee nuwelinge, die stut Frans van Wyk en Thembelani Bholi, ʼn flank wat ook as slot kan uithelp, is ingesluit in die Bulls se uitgebreide oefengroep vir die Superreeks.

Van Wyk spel sedert 2015 vir die WP en het die SA o.20-span in 2015 verteenwoordig. Bholi het die Kings vroeër vanjaar in die Superreeks verteenwoordig en vanjaar vir die Pumas Curriebekerrugby gespeel.

Die hoofafrigter John Mitchell het onder meer twee Blitsbokke, Tim Agaba en Stedman Gans, in die oefengroep van 65 ingesluit, hoewel hulle albei tans in Stellenbosch is waar hulle saam met die Blitsbokke voorberei vir Wêreldrugby se sewesreeks wat op 1 Desember in Dubai begin.

Mitchell het 17 losvoorspelers in die groep aangewys. Dit is nie ʼn verrassing nie, want die beserings het vanjaar in die Superreeks en ook die Curriebekerreeks onder die groep gemaai en Mitchell het nog nie almal in ʼn oefen- of wedstrydsituasie gesien nie.

Vyf van die sewe jong spelers in die oefengroep, wat hoofsaaklik genooi is om ondervinding op te doen, is dan ook losvoorspelers.

Daar is nege stutte, ses hakers, sewe slotte, 17 losvoorspelers, vyf skrumskakels, vyf losskakels, agt senters en agt vleuels/heelagters in die groep van 65.

Die vyf spelers wat in die afseisoen in Japan speel, Jason Jenkins, RG Snyman, Jacques Potgieter, Nic de Jager en Francois Brummer, is ook in die uitgebreide oefengroep. 

Die groep  – 

Stutte: Pierre Schoeman, Trevor Nyakane, Lizo Gqoboka, Conraad van Vuuren, John-Roy Jenkinson, Frans van Wyk, Mox Mxoli, Matthys Basson, Gerhard Steenekamp (Jong speler, beseer).

Hakers: Jaco Visagie, Adriaan Strauss, Edgar Marutlulle, Johan Grobbelaar, Jan-Henning Campher, Corniel Els (beseer)

Slotte: Jason Jenkins, RG Snyman (albei Japan), Lood de Jager, Aston Fortuin, Ruben van Heerden, Eli Snyman, Abongile Nonkontwana

Losvoorspelers: Roelof Smit, Jacques Potgieter (Japan), Hanro Liebenberg, Ruan Steenkamp (beseer), Jannes Kirsten, Nick de Jager (Japan), Hendré Stassen (beseer), Marco van Staaden, Tim Agaba (SA 7s), Thembelani Bholi, Shaun Adendorff, Boom Prinsloo, Denzil Hill (jong speler), Eduan Lubbe (jong speler), Jaco Bezuidenhout (jong speler), Kwezi Mafu (jong speler), Ryno Pieterse (jong speler).

Skrumskakels: Ivan van Zyl (beseer), Andre Warner, Embrose Papier, Theo Maree, Rudy Paige

Losskakels: Handré Pollard, Marnitz Boshoff, Manie Libbok, Tony Jantjies, Tinus de Beer.

Senters: Jesse Kriel, Dries Swanepoel, Johnny Kotze, Ulrich Beyers, Stedman Gans (SA 7s), Burger Odendaal, Francois Brummer (Japan), JT Jackson (beseer).

Vleuels/heelagters: Warrick Gelant, Travis Ismaiel, Jamba Ulengo, Duncan Matthews, Jade Stighling, Franco Naude, Divan Rossouw, Andell Loubser (jong speler).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Barries ·

Vergeet van die foefies, PR wedstryde, bont truie en kry eers julle huis in orde. Back to basics!

Dawie Smit ·

Ek hou van John Mitchell se idees… Hier kom groot dinge… Jy kon dit sien in ons laaste Currie beker wedstryd teen Natal. Glo & staan agter hierdie Noord Tranvalers! Groot nuwe opwindende tye wat voorlê. Hou By Die Blou!

Sharks ·

Ek dink hulle speel in Polokwane teen die Sharks, nie Stormers nie

Patetiese Bulle ·

Stem saam met Barries, Blou Bulle moet hulle huis in orde kry en ophou toere reel wat eintlik net `n vakansie is vir bestuur en die sogenaamde “high performance manager” Xander Janse van Rensburg. Kyk maar al die oorsese wedstryde, Xander post op sy FB blad al die vakansie fotos van hom en sy vrou. So die Bulle betaal hom om vakansie te hou. Die Blou Bul bestuur het `n kultuur van onverdraagsaamheid, en niemand durf teen hulle gaan nie. Pine Pienaar is Barend van Graan se skoonseun, so hy is beslis nie daar op meriete nie, maar deur familie bande. Diktatorskap op sy beste. Mens moet tog net nooit die Bulle se bestuur kritiseer nie, hulle is mos verhewe. My eens geliefde Bulle, kry julle huis in orde, hou op met baantjies-vir-boeties, hou op geld mors vir julle eie vakansies. Die Bulle gaan oor rugby, nie julle patetiese bestuur nie!!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.