Bulls-speler die swaarste gestraf

Die Bulls-slot RG Snyman is die swaarste straf opgelê in die tugverhore spruitende uit die afgelope naweek se Superrugbywedstryde.

Snyman het skuld erken op ʼn klag dat hy in die wedstryd tussen die Bulls en die Highlanders op Loftus Versfeld in ʼn losskrum ingestorm het, en is vir vier weke geskors.

Die komitee het die oortreding met die oog op straftoedeling as middelmatig beoordeel, wat ʼn skorsing van ses weke regverdig het, omrede die gevaarlike aard daarvan en die aanraking met ʼn speler se kop.

Snyman se skoon dissiplinêre rekord en skulderkenning het meegebring dat dit tot vier weke versag is.

Hy kan eers op 10 Junie weer speel, en sal gevolglik die Bulls se wedstryde teen die Lions en die Hurricanes misloop.

Die klag teen die Highlanders se vleuel Waisake Naholo, wat aanvanklik van ʼn gevaarlike duikslag in dieselfde kragmeting aangekla is, is ná bestudering van die getuienis verander na ʼn oortreding van die reël teen ʼn gevaarlike stormloop of obstruksie, of die gryp van ʼn teenstander met of sonder die bal.

Die komitee het besluit die oortreding was, binne konteks, van ʼn geringer aard en ʼn skorsing van twee weke was van pas.

Met inagneming van Naholo se skulderkenning en skoon rekord is dit tot ʼn week versag.

Die Kings-stut Ross Geldenhuys is vroeër sonder enige verdere straf laat gaan, omdat sy drie geel kaarte in vanjaar se reeks grootliks uit tegniese oortredings gespruit het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Waghond ·

Goed so. Hy het die Bulls die wedstryd gekos. Hy behoort ook sy wedstrydgeld kwyt te wees.

Callie ·

Net so swak soos ons kwotaspanne, so swak soos ons afrigters, net so swak is sulke beslissings. Altwee spelers moes selfde straf gekry het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.