Bulls steeds Jan-loos; Ox in opdrafvyftiental

Ox Nché - meer skrumkrag vir die Cheetahs? (Foto fscheetahs.co.za)

Ox Nché – meer skrumkrag vir die Cheetahs? (Foto fscheetahs.co.za)

Die Bulls en die Cheetahs het albei twee veranderinge aan hulle opdrafvytientalle vir Saterdag (19:30) se stryd in Bloemfontein aangekondig.

Albei spanne het die afgelope naweek vasgeval en sal angstig wees om hulle Superveldtogte weer op koers te kry.

Nollis Marais, afrigter van die Bulls, het Jason Jenkins in die plek van die beseerde Lood de Jager, wat die veld teen die Stormers met harsingskudding moes verlaat gekies.

Op Loskop vervang Lizo Gqoboka in wat as ’n rotasieskuif beskou word vir Pierre Schoeman wat homself op die bank bevind.

Straks die grootste verrassing is dat Marais die versoeking weerstaan het om die Springboksenter, Jan Serfontein, wat in die laaste jaar deur verskeie beserings geteister is, nie in die 23-tal in te sluit nie.

Hoewel die middelveldkombinasie van Dries Swanepoel en Burger Odendaal teen die Stormers bestendig vertoon het, kon die insluiting van Serfontein, wat reeds 26 toetse vir die Springbokke gespeel het, se ervaring goud werd gewees het teen die Cheetahs.

Jenkins se plek op die bank word deur die Namibiese flank, Renaldo Bothma, ingeneem.

Franco Smith, afrigter van die Cheetahs, het Ox Nché in die plek van Charles Marais gekies, met Marais wat afskuif bank toe. Marais het die afgelope naweek teen die Lions in die skrums swaar geleef.

Ryno Benjamin neem die plek van die beseerde Sergeal Pieterson op regtervleuel in wat ’n beenbesering teen die Lions opgedoen het.

Die skrumskakel Ruan van Rensburg bevind hom ook die eerste keer in die Cheetahs se 23-tal en kan moontlik in die tweede helfte sy Superrugby-buiging maak.

Die stryd tussen die twee spanne se lostrio’s kan Saterdag deurslaggewend wees.

Die Bulls se Hanro Liebenberg, Jacques Potgieter en Nick de Jager het teen die Stormers maar ’n flouerige vertoning opgedis, terwyl die Cheetahs se Oupa Mohoje, Uzair Cassiem en Paul Schoeman nie vir die Bloemfonteiners se neerlaag teen die Lions blameer kan word nie.

Bothma en Ruan Steenkamp is Marais se versekeringspolis indien die opdraflostrio nie die mas opkom nie, terwyl die Cheetahs vir Niell Jordaan op die bank het.

Spanne –

Cheetahs
15. Clayton Blommetjies, 14. Ryno Benjamin, 13. Nico Lee, 12. Clinton Swart, 11. Raymond Rhule, 10. Fred Zeilinga, 9. Tian Meyer, 8. Paul Schoeman, 7. Oupa Mohoje, 6. Uzair Cassiem, 5. Reniel Hugo, 4. Justin Basson, 3. Johan Coetzee, 2. Torsten van Jaarsveld, 1. Ox Nché. Bank: 16. Elandré Huggett, 17. Charles Marais, 18. Danie Mienie, 19. Francois Uys, 20. Niell Jordaan, 21. Zee Mkhabela, 22. Niel Marais, 23. Ruan van Rensburg.

Bulls

15. Jesse Kriel, 14. Travis Ismaiel, 13. Burger Odendaal, 12. Dries Swanepoel, 11. Jamba Ulengo, 10. Handré Pollard (kapt.), 9. Rudy Paige, 8. Hanro Liebenberg, 7. Jacques Potgieter, 6. Nick de Jager, 5. RG Snyman, 4. Jason Jenkins, 3. Trevor Nyakane, 2. Jaco Visagie, 1. Lizo Gqoboka. Bank: Edgar Marutlulle, 17. Pierre Schoeman, 18. Jacobie Adriaanse, 19. Renaldo Bothma, 20. Ruan Steenkamp, 21. Piet van Zyl, 22. TianSchoeman, 23. Warrick Gelant.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.