Bulls te sterk vir moedige Pumas

Foto: GB Jordaan.

Onder Jimmy Stonehouse se bekwame toesig is die Pumas een van die moedigste rugbyspanne in Suid-Afrika.

En hulle het vandag weer eens hierdie karaktereienskap op ’n sopnat Loftus Versfeld teen die Bulls onderstreep.

Covid-19-regulasies het onder meer die Laevelders gekniehalter en Stonehouse kon eers gister sy finale opdrafskap vir die kragmeting kies. Terselfdertyd het die span se sterk agsteman Willie Engelbrecht gisteraand sy pa in ’n motorongeluk verloor.

Dit was dus nie ’n groot verrassing toe die Bulls ’n rustydvoorsprong van 21–0 geniet het nie.

Die Pretorianers het munt uit die Pumas se ongedwonge foute geslaan met Kurt-Lee Arendse, Chris Smith en Ivan van Zyl wat vir die tuisspan se punte in die eerste helfte verantwoordelik was.

Ivan van Zyl het een van die Bulls se drieë gedruk. Die tuisspan het die wedstryd met 21 – 5 gewen. Foto: GB Jordaan.

So van Smith gepraat – hy het heel skaflik in Morné Steyn se afwesigheid vertoon en benewens sy drie was hy ook in die kol met al sy doelskoppe.

In ’n vorige onderhoud met Maroela Media het die Pumakaptein Pieter Jansen van Vuren egter gesê dat sy span op die hoogste vlak van die sport hoort.

En waar die Pumas in die eerste helfte gesukkel het, het hulle skielik die septer vir ’n paar keer in die laaste 40 minute van die wedstryd teen die Superrugby Unlocked-kampioenspan geswaai.

Hul verdediging het die Pretorianers weg van hul doellyn gehou, hul skrums was skielik nie meer in trurat nie en hulle het die enigste punte in die tweede helfte aangeteken toe HP van Schoor vir ’n drie oorgeval het.

Maar die Bulls het genoeg in die eerste helfte gedoen om met die louere weg te stap. En al was daar g’n teken van vonkelrugby nie, weet Jake White en Duane Vermeulen hoe om rugbywedstryde te wen.

En op die ou einde is dit al wat saak maak. Daar staan immers weer ’n trofee in Loftus Versfeld se vertoonkas.

  • Puntemakers:

Bulls: Drieë: Kurt-Lee Arendse, Chris Smith en Ivan van Zyl. Doelskoppe: Van Zyl (3).

Pumas: Drie: HP van Schoor.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

MakersMark ·

Pumas baie goed gespeel in 2 de helfte. Maar Bulle se verdediging was sterk. Bulle op die regte pad darem een trofee in die kas al is dit net lokaal.

Mad Mike die Rhodesiër ·

Eindtelling 21-5? Nie gesê nie, maar afgelei van die hoe die punte aangeteken is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.