Bulls trap byna in strik teen Munster

(Foto: GB Jordaan)

Dit het die Bulls Saterdagmiddag op Loftus Versfeld net een minuut geneem om Munster te laat verstaan wie baas van die plaas is, of so het hulle gedink.

Op die ou einde het die Bulls dié kragmeting in die Verenigde Rugbykampioenskap met 29 – 24 deurgeskraap nadat hulle rustyd reeds met 26 – 3 voor was.

Reeds met die eerste losskrum was daar al perde, wat tot ʼn onderonsie gelei het met spelers wat aan mekaar geruk en gepluk het.

Soos gewoonlik was Munster se Chris Cloete voor in die koor, maar wat gebeur het, is dat Munster net verder teruggestaan het en ʼn oënskynlike meesterplan van die oud-Affie Johann van Graan (Munster-afrigter) om sy span se kragte vir die tweede helfte te spaar, het byna vrugte afgewerp.

Die Bulls het in die eerste helfte gemaak en breek soos hulle wou. Munster het boonop meer as tien strafskoppe asook en ʼn geel kaart (Alex Kendellen) afgestaan.

(Foto: GB Jordaan)

Met die rustydtelling op 26 – 3 in die Bulls se guns, was die wedstryd in die sakkie.

Maar dit was ’n wedstryd van twee helftes, want in die tweede helfte het Munster vlamgevat en was dit duidelik dat Van Graan se planne om in die eerste helfte laag te lê om die uitwerking van die hoogte bo seevlak te oorkom, so byna uitgewerk het.

Ewe skielik was die skoen aan die ander voet en het Munster die toutjies begin trek.

Toe was dit die Bulls wat al flouer geraak het en boonop het hul dissipline begin lol.

(Foto: GB Jordaan)

Die plaasvervanger-haker Bismarck du Plessis het in ʼn onbesonge oomblik ʼn rooi kaart vir ʼn boorvat gekry en hy kan ʼn hele paar weke geskors word.

Aan die Bulls se kant was die heelagter Kurt-Lee Arendse en die vleuel Madosh Tambwe baie gevaarlik op die aanval.

Dit het tot twee drieë deur Tambwe gelei en hy het voortgebou op ʼn patroon wat jare gelede gevestig is toe Noord-Transvaal spogvleuels soos Corra Dirksen, Koos Meiring, Willem Stapelberg en, heelwat jare later, Bryan Habana opgelewer het.

(Foto: GB Jordaan)

Tambwe het hom nou by sulke staatmakers aangesluit en kan een van Loftus se grotes word, mits hy sy voete op die grond hou.

Aan die negatiewe kant kon die Bulls net drie punte in die tweede helfte aanteken en nie ʼn bonuspunt verower nie.

Hulle het boonop uit stoom geraak en byna in ʼn strik getrap.

En dit teen span sonder sy Ierse toetsspelers!

Punte:

Bulls 29 (26): Drieë: Madosh Tambwe, Walt Steenkamp. Strafdoele: Chris Smith (5). Doelskoppe: Smith (2).

Munster 24 (3): Drieë: Alex Kendellen, Damian de Allende, Jack O’Donoghue. Strafdoel: Ben Healy. Doelskoppe: Healy (3).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frans ·

Bryan Habana sê jy.Die man was reeds ‘n Springbok by die Leeus voordat hy na die Bulle is.
Die Bulle se probleem is die Sharks en Lions se probleem,hulle kan net nie 2 helftes van dieselfde gehalte speel nie en val dikwels vas.
Vergelyk dit nou met die amper fanatiese poging van die Chiefs teen die Crusaders en is ek persoonlik dankbaar dat ons uit die reeks is,

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.