Bulls veg soos Bokke terug ná groot agterstand

Johnny Kotze, wat op binnesenter vir die Bulls uitgeblink het, op pad doellyn toe met Augustin Creevy wat nie kan keer nie. (Foto: GB Jordaan)

Die Bulls het Saterdagmiddag die Springbokke se resep van die eerste twee toetse gevolg en hul teenstanders in die eerste klompie minute ʼn deeglike voorsprong gegee voordat hulle reggeruk het.

Die les wat die Bulls op Loftus geleer het, is dat die Jaguares vasgevat moet word, nie toegelaat moet word om met hulle kort aangeë, goeie voetwerk en oordeel aan die hardloop te gaan nie, en dat daar effektief verdedig moet word.

Dit het die Bulls 20 minute geneem om hierdie les te absorbeer. Hulle het dit daarna goed toegepas en toe ʼn agterstand van 0-19 ná 20 minute in ʼn oorwinning van 43-34 omskep.

Met hierdie oorwinning gee die Bulls aan die Lions, teen wie hulle aanstaande week speel, ʼn effense asemhaalkans om die plek in die tuis-kwarteindronde outomaties te haal met die Jaguares wat nog steeds tweede in die Suid-Afrikaanse afdeling lê.

Jesse Kriel op die aanval met Hanro Liebenberg en Ruben van Heerden byderhand om hom te ondersteun. (Foto GB Jordaan)

Die Jaguares het twee keer in die eerste 12 minute met pragtige vinnige aangeë deurgewals en gaan druk om met 12-0 voor te loop, en toe agt minute later nog ʼn drie bygevoeg om dit 19-0 te maak.

Die Bulls het in dié stadium verward gelyk en het onder meer soos die Bokke groot gapings gelos. Wanneer hulle besit gekry het, het die Bulls dit met swak oordeel, swak ondersteuning en swak hanteerwerk ongedaan gemaak.

Die gesukkel was oral waarneembaar. Selfs toe hulle in die Argentyne se kwartgebied, die tweede net vyf meter van die doellyn af, lynstaaningooie ná strafskoppe gehad het, het die Bulls hul kanse verspeel en die lynstaanballe afgestaan.

Maar mettertyd het die ritme, die selfvertroue en die samespel gekom, was die aangewerk meer berekend en het die voorspelers hulle deel by die losgemale begin doen en die besoekers later stukkend geskrum.

Embrose Papier, wat die skrum vinnig skoongemaak het, se skoppies oor die skrum is oordoen en was te kort en het deurgaans besit weggegee; die kaptein Handré Pollard was op losskakel baie goed en het op die aanval heelwat geleenthede en ʼn drie geskep; Warrick Gelant was deurgaans gevaarlik maar het te skuins gehardloop en ook te veel hanteerfoute gemaak; en RG Snyman het net aangegaan met die soort spel wat hom toetsrugby laat speel het.

Rustyd was die telling na drie drieë 21-19 in die Bulls se guns. Hulle het ná rustyd ook drie drieë (een waaroor die Jaguares met reg kan kla) bygevoeg en die drieë-wedloop met 6-5 gewen met die Jaguares se laaste wat in die 80ste minuut gekom het.

Die Argentyne bly ʼn goeie span. Die Bulls moes 155 keer teenoor net 51 duikslae uitvoer, het by die losskrums deeglik slae gekry, vier lynstane afgestaan en is met 12 strafskoppe wéér swaar gestraf. En gebied en besit het met twee teen een aan die Jaguares behoort.

Puntemakers ‒

Bulls (21) 43:  Drieë: Johnny Kotze, Embrose Papier, Jesse Kriel, Jamba Ulengo (2), Marco van Staden. Strafdoel: Handré Pollard. Doelskoppe: Pollard (5).
Jaguares: (19) 34: Drieë: Nicolás Sánchez, Pablo Matera (2), Gonzalo Bertranou (2). Doelskoppe: Sánchez (3). Strafdoel: Emiliano Boffelli.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Frans C ·

‘n Mens moet nooit ‘n gegewe perd in die bek kyk nie,bedoelende dat jy nie ‘n geskenk moet kritiseer nie.Die Lions sal dus deurgaans dankbaar bly.Gaan dit hulle help om ‘n tuiswedstryd te kry,beslis as hul die Bulle in hul laaste wedstryd klop en die Sharks die Jaquares se sterte verder knoop.
Tog bly daar ‘n groot vraag oor die krag van Suid Afrikaanse rugby.Talle spelers (5) verlaat die Stormers,’n onbekende aantal gaan die Lions verlaat,wat die deur wyd oop laat vir die Bulle en Sharks om hul as die voorste superrugbyspan te vestig.

Dit neem gewoonlik ‘n paar seisoene voordat spanne volle wasdom bereik,dws as
Superrugby nog bestaan en SA rugby nie so dom is om in die Noordelike halfrond te gaan speel nie.Doen hul dit word hul blootgestel aan oorseese klubs met hope geld en kan hul soos die Cheetahs en Kings groot getalle spelers verloor.

In die Aviva was die gemiddelde vergoeding (2017} 200 000 BP en in die Pro 14 170 000 BP per jaar. Teen ‘n wisselkoer van R17 ongeveer R3.4 m en R2.89 m per jaar.
‘n Rugbyster kan soveel as 650000 BP per jaar verdien.So ongeveer R11 m per jaar.
Die groot voordeel is ,geen kwota,geen politieke inmenging ens.
Vergelykend (Business Tech):
Currie Cup and Super Rugby experience
In SA: R1.5m-R2m/year
Wil ‘n mens regtig jong spelers oorsee aan dit blootstel?
In Europe: R3m-R5m/year

Henry ·

Ek het agting vir jou rugby kennis Frans, maar met alle respek.

Rugbyspelers jonk en oud, begaafd/talentvol of andersins, lees koerante/internet, gesels met ander spelers wat hier en oorsee speel oor verskillende vergoedingspakkette en wisselkoerse. Leefomstandighede is bekend agv onderlinge besprekings met spelers wat reeds in die Noorde is.

Dat weerhouding van plaaslike spelers aan die kospotte van Europa, sal verhoed dat ons spelers teen die aanloklikhede van Noordwaartse verhuising beïnvloed sal word, is mos nie moontlik nie. Om nie eers te praaaat van die rol wat die kwotastelsel, plaaslike politiek, eiendoms- en lewens-bedreigings in ‘n Afrikastaat wat teen ‘n spoed suidwaarts snel, speel nie.

Soos talle jongeres in my familie reeds hul daaglikse brood in Europese en ander state verdien, so gun ek dieselfde geleenthede aan Suid Afrikaanse rugbyspelers om hul talente wat nie ‘n lang rakleeftyd het nie, buite die grense van hierdie droewe land te gebruik om ‘n beter lewe vir hul mense te verseker.

Frans C ·

Vandat rugby ‘n beroepsport is, loop dit gevaar dat weens die huidige ekonomiese en pokitieke klimaat in Suid Afrika dat Suid Afrikaanse sy aantrekkingskrag plaaslik kan verloor as sy beste spelers in groot getalle Suid Afrika verlaat.

‘n Mens kan geen speler kwalik neem,want ‘n rugbyloopbaan is ‘n kortstondige loopbaan.Dit is 8 jaar gelede 2010 dat ‘n Suid Afrikaanse span,die Bulls ‘n Superrugby kompetisie gewen het,11 Jaar sedert ‘n wêreldbeker, 8 jaar sedert ‘n rugbykampioenskap.

Indien ons beste spelers oorsee is gaan plaaslike Springbokrugby soos sokker word
wanneer Suid Afrikaanse spelers van oorsee ‘ingevoer’ moet word ten einde mededingend in enige reeks te wees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.