Bulls verander agt vir Sunwolves

Jan Serfontein - terug in die beginspan (Foto: bulls.co.za)

Jan Serfontein – terug in die beginspan (Foto: bulls.co.za)

Agt veranderinge aan die beginspan. Hoeveel daarvan werklik rotering van die spelers is, is onseker, maar dít is wat die Bulls se afrigtingspan hoop die Pretorianers op die wenpad sal plaas

Die Bulls speel Vrydag op Loftus teen die Sunwolves, wat die Cheetahs verlede naweek kwaai skrikgemaak het.

Nollis Marais, afrigter van die Bulls, het nie geskroom om sy Springbokspelers wat van beserings herstel het in te span nie.

Daar moet nie in alle gevalle te veel in die veranderinge gelees word nie, maar die wedstryd teen die Sunwolves sal ongetwyfeld ook ʼn vorm van bestekopname vir Marais-hulle wees.

Agterlangs kry Piet van Zyl kans in die plek van Rudy Paige op skrumskakel. Van Zyl, wat drie toetse op sy kerfstok het, het in albei wedstryde vanjaar toe hy Paige vervang het, teen die Stormers en die Cheetahs, beïndruk.

Page bevind hom ook nie op die bank nie, met Ivan van Zyl wat die keer die versekeringspolis is. Volgens die amptelike persverklaring word Page ‘gerus’, maar die vraag is natuurlik hoekom gerus moet word as die Pretorianers die afgelope naweek ’n loslootjie gehad het.

Teen die Cheetahs het die Bullskaptein Handré Pollard, wat onlangs na sy langtermynbesering teruggekeer het, verroes gelyk. Met Van Zyl as sy skakelmaat sal Pollard hopelik die bal vinniger ontvang en sal hy ook sy stempel kan afdruk.

Jan Serfontein speel ook die eerste keer vanjaar Superrugby en sal met Burger Odendaal, wat van buitesenter na binnesenter skuif, in die middelveld kombineer.

Op heelagter vervang Warrick Galant die Springbok Jessie Kriel, wat afskuif bank toe.

Die Pretorianers draf ook met twee nuwe flanke op die veld. Die Namibiese ramkat-kaptein Renaldo Bothma en Ruan Steenkamp neem die plekke van Jacques Potgieter en Nick de Jager. Potgieter herstel van harsingskudding, maar daar is nog bitter min van dié Potgieter gesien wat in 2012 die Springboktrui oor sy kop getrek het.

Lood de Jager, wat harsingskudding teen die Stormers opgedoen het, keer terug in die plek van RG Snyman, wat afskuif bank toe.

Pierre Schoeman vervang vir Lizo Gqoboko op loskopstut in wat as deel van ’n rotasiebeleidskuif gesien kan word, met Gqoboko wat van die bank af sal speel.

Op haker neem die ervare Edgar Marutlulle, wat al onder meer die Lions en Goue Leeus, die Kings en Luiperds verteenwoordig het, oor by Jaco Visagie wat uit die wedstrydgroep gelaat is.

Die reserwehaker op die bank is die voormalige Springbokkaptein Adriaan Strauss, wat ook van ’n besering herstel het. Die Pretorianers sal hoop dat Strauss eerder vroeër as later die spelpeil sal herwin wat hom destyds as Cheetahs-speler op die radar geplaas het.

Strauss is egter ook ’n ervare speler en sy 132 verskynings in Superrugby is ’n Suid-Afrikaanse rekord. Daarby sal sy leierseienskappe goud werd wees vir ’n span wie se ondersteuners na twee neerlae ongemaklik begin rondskuif.

Bulls (Superwedstryde tussen hakies) –
15. Warrick Gelant (6), 14. Travis Ismaiel (19), 13. Jan Serfontein (48), 12. Burger Odendaal (20), 11. Jamba Ulengo (12), 10. Handré Pollard (kapt. 27), 9. Piet van Zyl (70), 8. Hanro Liebenberg (10), 7. Renaldo Bothma (19), 6. Ruan Steenkamp (2), 5. Lood de Jager (41), 4. Jason Jenkins (15), 3. Trevor Nyakane (72), 2. Edgar Marutlulle (27), 1. Pierre Schoeman (11). Bank: 16. Adriaan Strauss (132), 17. Lizo Gqoboko (11), 18. Jacobie Adriaanse (28), 19. RG Snyman (14), 20. Jannes Kirsten (15), 21. Ivan van Zyl (2), 22. Tian Schoeman (24), 23. Jesse Kriel (33).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Will i am ·

Nou sien ek hoekom is die winter so vroeg. Bladsy is nie eers op die bank nie. Dankie Nollis

Gerhard ·

As hulle Saterdag voortploeter soos die eerste 2 wedstryde sien ek swarigheid vir die Bulle.

Bloubal ·

Maroela. Kyk bietjie na die naam van haker wat uitgelos is. Dis nie Jaco Kirsten nie. Stem verder saam met die veranderings. Nollis moet nie dat name hom n span laat kies nie. Al is jy ookal wie moet jy weet dat jy ook ge’drop’ kan word as jou spel nie op peil is nie. Daars n paar Tukkies spelers wat gerus die jaar nader getrek kan word.

Janie Monsieur ·

Dagsê Bloubal,

Dankie vir jou kommentaar. Dit was sowaar ‘n glips van ons kant af, jammer! Dankie dat jy ons daarop gewys het, die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Janie nms. Maroela Media

Oom Piet ·

Jakkie sê daar word blykbaar ‘n nuwe kwota stelsel vir 3 provinsies ingestel. Sharks moet 5 afrikaans sprekendes in hulle span insluit , die Cheetats moet 5 engels sprekendes en die Bulle moet 5 rugby spelers in hulle insluit.

Bloubal ·

Groot plesier Janie. Ons is almal mense. Oom Piet. Ek neem aan die ou toppie skree vir die winde(po?pe) of die welpies?

Christo Visagie ·

Bloubal,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,duidelik het jy nie ‘n sin vir humor nie,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,en moontlik ook nie respek vir ouer mense nie,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,

Alita Steenkamp ·

Nog ‘n glips, Maroela Media. Die wedstryd vind Vrydagaand op Loftus plaas. :-)

Mariné Lourens ·

Dagsê Alita

Ons vra om verskoning vir die oorsig. Die berig is gewysig.

Groetnis
Mariné
nms Maroela Media

JohanvSchaik ·

So oom nollis.
Waarom sal jy nie ‘n erkende ses flank kies nie?
Jy speel vir Jan Serfotein op buite senter, drop vir Jesse Kriel wat eintlik ‘n buite seneter is en behou vir odendal.
‘N groot pak lyk goed op papier maar as jou pak nie oor die voordeel lyn kom nie help hulle ook nie. Hoop regtig die verdedigings patroon is hersien en dat julle die spasie wyd sal toe maak. Dat ons die spel kan terug bring na die.groot pak voor spelers toe.

Klippies ·

Ook, Burger Odendaal is nog heeltyd binnesenter. Serfontein neem by Swanepoel oor op buitesenter.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.