Bulls weer op die wenpad

Johan Grobbelaar het een van die Bulls se drieë gedruk. Foto: GB Jordaan.

Die Bulls het vanmiddag in Johannesburg hul eerste tree terug op die wenpad gegee nadat hulle ’n paar wedstryde in die Verenigde Rugbykampioenskap-reeks verloor het.

Die Pretorianers het vier drieë gedruk in hul bonuspunt-oorwinning van 34 – 10 teen ’n Lions-span wat hopeloos te veel foute gemaak het.

Jake White het in alle waarskynlikheid sy span die Leviete voorgelees nadat hulle verlede naweek in die doodsnikke teen die Stormers op Loftus Versfeld verloor het, want hulle het sterk in die eerste helfte begin.

Met Elrigh Louw voor in die koor het Johan Grobbelaar, Embrose Papier en Arno Botha punte vir die besoekers aangeteken.

Elrigh Louw op die aanval. Foto: GB Jordaan.

Rustyd het die Bulls ’n lekker voorsprong van 20 – 3 geniet en ’n bonuspunt‑oorwinning was beslis op die spel.

Maar die Lions het ná die aksie weer hervat is beter gespeel en Jaco Kriel het gesorg dat die tuisspan die eerste punte van die tweede helfte aangeteken het.

Die Bulls moes hard vir hul vierde drie werk, maar Harold Vorster (’n voormalige Lions-speler) het laat in die wedstryd deur die verdediging gebars om die bonuspunt te verseker.

Die kragmeting sal beslis nie die toekenning vir die mees aanskoulike wedstryd van die jaar wen nie, maar die Bulls sal ongetwyfeld vanaand ’n bietjie rustiger slaap. Want net soos wat ’n span ’n gewoonte daarvan maak om te wen, karring ’n paar nederlae aan jou selfvertroue.

Daarteenoor sal die Lions hard aan hul afronding moet werk.

Hulle was gereeld op die Bulls se doellyn, net om die bal aan te slaan of besit te verloor.

  • Puntemakers:

Bulls: Drieë: Johan Grobbelaar, Embrose Papier, Arno Botha en Harold Vorster. Doelskoppe: Morné Steyn (4). Strafskoppe: Steyn (2)

Lions: Drie: Jaco Kriel. Doelskop: Tiaan Swanepoel. Strafskop: Fred Zeilinga.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.