Bulls wen drie, Stormers verloor drie agtereenvolgens

Lood de Jager – blink weer vir die Bulls uit (Foto: GB Jordaan)

Australië se naasbeste span het Saterdag op Loftus groot pak teen Suid-Afrika se naasbestes op die punteleer gekry, en in ʼn wedstryd vol foute was daar vir die Stormers op Kingspark die voortsetting van hulle string derby-neerlae.

Die Bulls het op Loftus hulle derde opeenvolgende oorwinning sonder veel gesukkel en ondanks ʼn middelmatige tweede helfte, met 28-10 en insluitend ʼn bonuspunt, teen die Rebels behaal.

Die Stormers se hartseer storie is op Kingspark verleng met ʼn neerlaag van 17-24 teen die Sharks.

♦  Die Bulls het, soos die afgelope weke toenemend die geval was, met goeie hanteerwerk en ondersteuning in veral die eerste helfte hulle opwaartse kurwe voortgesit. Dis seker te laat om vanjaar al hond haaraf te maak, maar vir Suid-Afrikaanse rugby is dit goed.

Hulle moes egter nóg meer gedoen het met die besit en geleenthede wat daar in die eerste helfte was en rustyd met heelwat meer as 21-3, drie drieë, voorgeloop het.

Adriaan Strauss het sy vyfde drie van die seisoen gedruk, die agterlyn was veral in die eerste helfte skerp, die slotte RG Snyman en Lood de Jager lyk met elke opdrafslag meer gedug en die heelagter Warrick Gelant was weer rotsvas met sy keerwerk en flink op die aanval.

Puntemakers –
Bulle (21) 28:
Drieë: Adriaan Strauss, Jesse Kriel, Divan Rossouw, André Warner. Doelskoppe: Handré Pollard (4).
Rebels (3) 10: Drie: Michael Ruru. Doelskop: Jack Debreczeni. Strafdoel: Debreczeni.

♦  Die Sharks het wel tuis hulle vierde opeenvolgende oorwinning (ʼn naelskraapse sege van 24-17) oor die Stormers behaal, maar is ver van ʼn gevreesde span af.

Dit was ʼn wedstryd wat beklemtoon het waarom toeskouergetalle in Superrugby, ook in Australasië, toenemend afneem. Daar het in die 80 minute se geploeter, met ʼn opflikkering hier en daar in die tweede helfte, hoofsaaklik niks aangegaan nie.

Vir die Stormers was dit, soos vir die Bulls, drie uit drie – maar in die Stormers se geval drie opeenvolgende neerlae en nie oorwinnings nie

Die Sharks het in die skrums redelik gevaar ná vrese dat hulle oordonder sou word, het die bal min kere na buite laat loop en trouens selde die keuse vir hulle losskakel Robert du Preez gelaat om die spel te probeer dikteer. Hulle lyk allermins na ʼn span wat Suid-Afrika se afdeling kan of sal wen om in die uitspeelrondes te land.

Die Sharks se twee vleuels S’bu Nkosi (wat ná ʼn goeie breekslag ʼn drie met swak oordeel weggesmyt het) en Makazole Mapimpi en die senter Lukhanyo Am het agterlangs uitgeblink. André Esterhuizen het min kans gekry om sy dinge te doen, en die pak as eenheid was beter as die Kapenaars met Thomas du Toit wat uitgeblink het.

Damian Willemse was goed, naamgenoot Damian de Allende eweneens so, en Dillyn Leyds het aanvanklik goed met teenaanvalle gelyk.

Voorlangs, benewens die Stormers se goeie skrum, het Pieter-Steph du Toit, weer as flank, sy hart uitgespeel en het Steven Kitshoff ook sy deel gedoen. En dis omtrent al.

Vir die Stormers se afrigter Robbie Fleck is daar nou heelwat meer om oor na te dink  – en die realiteit is dat die probleem nie deur ander spankeuses opgelos kan word nie.

Daar is duidelik meer as blote geldprobleme in die Kaap.

Puntemakers –

Sharks (3) 24: Drieë: Lukhanyo Am, Jean-Luc du Preez, Thomas du Toit. Doelskoppe: Robert du Preez (3). Strafdoel: Du Preez
Stormers (10) 17: Drieë: Raymond Rhule, Ramone Samuels. Doelskoppe: Damian Willemse 92). Strafdoel: Willemse

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

T. van Schalkwyk ·

Jaar na jaar wonder rugbyliefhebbers of Australië genoeg Wallabies bymekaar geskraap gaan kry om hoegenaamd kompeterend te wees. Dit raak al moeiliker.
Rugby in Aus suig nie eers meer aan die agterspeen nie, dit drink nou bottel!
Dié dat ‘n gelykop-uitslag, of twéé, teen die Bokke ‘n groot prestasie is.

rollie ·

Kan nie verstaan hoekom hulle nie hul rugby meer versterk met die eiland-spelers soos NZ nie. Maar soos jy se, rugby union is nie hoog op die agenda in Australie nie.

SjN ·

In vergelyking met verlede week se wedstryd tusse die bulls en sharks het al die sa spanne die naweek soos n klomp amateurs gespeel, te veel basiese foute, glad nie op standaard nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.