Bulls wen, maar Duane het seer

Foto: GB Jordaan.

Kyk, dié sin is al holrug gery, maar onder Jake White weet die Bulls maar net hoe om wedstryde te wen. Veral op hul tuisveld.

Die Pretorianers het gisteraand nóg ’n wedstryd op Loftus Versfeld gewen toe hulle die Stormers met 31–27 geklop het. En oudergewoonte was hul veggees, vasberadenheid en ongekende vermoë om ’n haas uit die hoed te pluk deurslaggewend.

Die Kapenaars het baie laat in die wedstryd ’n voorsprong van 27–24 geniet en hul briljante verdediging (hulle het meer as 250 duikslae in die wedstryd uitgevoer) het die Bulls weg van hul doellyn gehou.

Maar met sekondes op die horlosie oor het Ruan Nortjé oor die doellyn gedraf en Morné Steyn het doodluiters die doelskop oor die dwarslat gejaag.

Van die Varsitybeker tot die Curriebeker het al staanplek in Pretoria gekry en ná gisteraand se Harry Houdini-vertoning lyk dit asof die Bulls ook na Treviso sal reis om Europa se beste aan te vat.

Foto: GB Jordaan.

Marcell Coetzee het in sy buiging vir Duane Vermeulen se span geskitter, terwyl Steyn oudergewoonte die toutjies op losskakel getrek het.

Tog moet die Stormers vir hul verdediging geloof word, terwyl Edwill van der Merwe een van die opwindendste spelers in Suid-Afrika is.

So van Vermeulen gepraat; die Springbok-hardebaard moes die veld in die eerste helfte met ’n enkelbesering verlaat en White het ná die wedstryd gesê “dit lyk nie goed nie”.

“Duane is ’n taai kalant en wanneer hy sê dat hy seer het, dan weet ons dit moet iets (ernstig) beteken,” het White gesê.

Die Springbok-skrumskakel Herschel Jantjies moes ook vroeg die veld verlaat en volgens John Dobson (Stormers-breier) het die ratse nommernege reeds voor die wedstryd sleg gevoel.

  • Puntemakers:

Bulls: Drieë: Johan Grobbelaar (2), Marcell Coetzee en Ruan Nortjé. Doelskoppe: Morné Steyn (4). Strafskop: Steyn.

Stormers: Drieë: Edwill van der Merwe (2), Damian Willemse en Tim Swiel. Doelskoppe: Swiel (2). Strafskop: Swiel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

19 Kommentare

jongste oudste gewildste
MakersMark

Sê maar weer – die Blou Bul eet nie van die vloer af nie, maar van Loftus se groen gras af in die laaste minuut. Duane en Marcel Coetzee het die province se lostrio, insluitende Pieter Steph, stil gespeel. Tot Duane af is toe neem Eskom oor by hom. Bulle kon baie beter, te veel lynstane weggegee, en ‘n paar los balle verloor. Besluitneming deur die Bulle het my verbaas en 6 strafskoppe naby die pale is weggegee deur kantlyn toe te skop en net een drie daarvoor te kry. Wat help dit die druk op die opposisie word nie… Lees meer »

N

Nee wat. Vir n unie wat vol geld gestop is ,is die Bulle glad nie oortuigend nie. Met n wereld klas afrigter en meestal ander provinsies se spelers is hulle maar ‘average’. Vorige wedstryd verloor hulle teen n sukkelende Leeus span. Gister wen hulle net net (met 2 sagte geel kaarte en 15 meestal onnodige strafskoppe) teen n unie wat bankrotskap in die gesig staar. SA rugby in die geheel is in die moeilikheid, al ons jong top spelers speel in die buiteland

Barry

Geluk aan die Bulle

Tubac

Die moderne stewels beskerm nie die enkels nie. Swik te maklik. Weet nie hoekom voorspelers darmee speel nie. Moet seker die borge tevrede stel. As dit ek was, sal ek met stewels speel wat my enkels ook beskerm.

SjN

Het die Bulle alweer gewen, shame, arme Wp, die Wyn is alweer suur in die mond.