Bulls wen opwindende Jukskei-derby

Stedman Gans val oor vir sy drie. Foto: GB Jordaan

Stedman Gans het seker gisteraand baie lekker geslaap. Die oudhoofseun van Hoërskool Waterkloof se verspot maklike (dog akrobatiese) drie vroeër die aand in die Superrugby Unlocked-kragmeting tussen die Bulls en die Lions op Ellispark het na alle waarskynlikheid die wedstryd vir die Pretorianers beklink.

Want op ’n aand waar albei spanne hard vir hul punte moes werk, het Gans sy vyfde drie van die reeks op ’n skinkbord gekry toe hy ’n wilde Lions-aangee op hul doellyn éérs onderskep en tóé in punte omskep het.

Burger Odendaal het ’n drie teen sy voormalige spanmaats gedruk. Foto: GB Jordaan

Die Pretorianers het ’n wipplankstryd – want dit was inderdaad een – met 30 – 25 gewen om hul houvas op die punteleer te verstewig.

Maar waar dit later tien teen een ’n bietjie vervelig kan word om te kyk hoe twee kinders sake op ’n parkie-wipplank uitspook, het gisteraand se wedstryd vir lekker opwinding gesorg.

Benewens Gans se drie was daar ’n oorstootdrie of twee, ’n Burger Odendaal-drie teen sy oudspanmaats, ’n Wandisile Simelane-juweel en Kurt-Lee Arendse se plaas-die-wedstryd-buite-die-bereik-van-jou-teenstanders-drie.

Die Bulls is ’n gedugte eenheid onder Duane Vermeulen se leierskap. Foto: GB Jordaan

Simelane is egter ongetwyfeld een vir die toekoms en hy het gisteraand ’n rits Bulls-verdedigers laat les opsê om ’n pragdrie te druk.

Wat die skopstryd tussen Elton Jantjies en Morné Steyn betref het die Bulls-losskakel gewen. Hy was weer eens die akkuraatheid van self en soos ’n Maroela Media-leser verlede week opgemerk het: “Morras mis nie”.

Die Bulls en Jake White weet hoe om wedstryde te wen en hulle kan ’n gedugte span word, maar met ’n bietjie meer afrondingswerk en ’n tikkie meer geluk, kan hierdie Lions-span ook binnekort weer hard brul.

Puntemakers:

Bulls 30 (10): Drieë: Joe van Zyl, Stedman Gans, Kurt-Lee Arendse. Doelskoppe: Morné Steyn (3). Strafskoppe: Steyn (3).

Lions 25 (15): Drieë: Burger Odendaal, Morné van der Berg en Wandisile Simelane. Doelskoppe: Elton Jantjies (2). Strafskoppe: Jantjies (2).

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Frans ·

Jammer maar die Leeus se kaptein Jantjies se oordeel laat hom op kritieke tye in die steek.2 van die Bulls drieë het van dit gekom.Eers ‘n skuinsskop uit eie kwartgebied vir vleue, dit l was nooit aan nie.Kort daarna maal die Bulls oor vir ‘n drie.Toe ‘n aangee op sy eie doellyn,pleks daarvan om die bal ver veld af te skop en die Bulls te laat omdraai,en ‘n maklike onderskepdrie, Jy kan nie 14 punte so afstaan nie-want dan speel jy gedurig opvangrugby.

Presies dieselfde flater is teen die Stormers gemaak en was onderskepdrie ook daar die verskil tussen wen en verloor.Die Bulle het verdien om te wen omdat hul die foute terdeë uitgebuit het.As hierdie spanne werklik ‘n faktor in die Pro16 wil wees gaan hul ,hul spelpeil moet lig en foute uitskakel,want baie van die kompetisie se spanne is gelaai met internasionale spelers en sluit ook ‘n hele klompie Suid Afrikaners in.
Onthou nie een kon die afgelope dekade die Suidelike halfron se Superrugbykompetisie wen nie,want hul was doodgewoon

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.