Bulls wen weer teen SA teenstanders

Handre Pollard. Foto: GB Jordaan

Met ʼn paar minute se speeltyd in Durban oor was die telling 16-elk tussen die Bulls en die Sharks. Die meeste gesprekke rondom die braaivleisvure is waarskynlik strategies in die rigting van “om gelykop te speel is dieselfde as om jou niggie te soen” gestuur.

Die Bulls se voorry het vermoedelik soortgelyke niggie-soen-gedagtes gehad en ʼn puik skrum het gesorg dat hul skerpskutter en kaptein, Handré Pollard, in die 78ste minuut kans gekry het om pale toe aan te lê.

En Pollard, anders as die Sharks se Robert du Preez, mis vanjaar nie sommer ʼn stelskop nie en die Bulls het die veld as oorwinnaars verlaat. Hul sege van 19 – 16 is hul vierde agtereenvolgende oorwinning in vanjaar se reeks teen Suid-Afrikaanse teenstanders. En hul tweede op ’n ry teen die Durbaniete.

Maar om eerlik te wees, vandag se wedstryd was weliswaar nie ʼn vertoonvenster van aanvallende en vloeiende hardlooprugby nie. Beide spanne het foute gemaak en in ʼn kragmeting waar daar nie werklik veel tussen die twee spanne te kies was nie, was Pollard se skopskoen die verskil.

Ná ʼn klipharde (maar power) eerste helfte, het die Bulls eerste punte in die tweede helfte aangeteken, toe Jesse Kriel gaan druk het.

Drama het egter kort daarna gevolg toe beide spanne se hakers – Schalk Brits (Bulls) en Akker van der Merwe (Sharks) – met rooi kaarte van die veld gejaag is ná ʼn bokssessie. Op die televisie is daar gewys hoe Van der Merwe vóór die boksgeveg kontak gemaak het met Brits se rooi skrumpet in ʼn losgemaal.

Tog was dit die Haaie wat beter rugby in dié helfte gespeel het en André Esterhuizen is welverdiend met ʼn drie beloon. Maar Du Preez het nie sy skopskoene aangehad nie en het sewe punte (insluitend sy poging om Esterhuizen se drie te verdoel) verbrou.

In ʼn wedstryd wat met drie punte gewen is, is sewe verspeelde punte moeilik om mis te kyk.

Die wen sorg dat die Bulls tweede op die SA punteleer is, ʼn kortkop agter die Lions in die eerste plek.

Puntemakers:

Bulls: Drie: Jesse Kriel. Doelskop: Pollard. Strafskoppe: Pollard (4)

Sharks: Drieë: Daniel du Preez en André Esterhuizen. Strafskoppe: Robert du Preez (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Babertondaisy ·

Klipharde wedstryd maar nie ‘n goeie wedstryd nie. Bulls se verdediging het hul laat wen. Bulls bo teen SA spanne. Sidder om te dink Bulls teen NZ spanne in NZ……..

Kiewiet ·

Bosch is in baie beter losskakel as Robert, weet nie hoekom pa Robert vir klein Robert op loskakel hou nie. Pollard en Robert is altwee ewe pateties.

Phil ·

Pollard is ligjare voor Robert en dit is dus nie reg om hulle met mekaar te probeer vergelyk nie….

Anni ·

Ek wil net se hel Robert J lyk so mooi skoon, sonder daai hengse snor. Bulle jul het net net gewen, Maar dit was OK gewees.

Hennie ·

Al twee spanne het te hard probeer en vergeet om te speel.

Ralph ·

Maroela Media. Ek stem nie saam nie. Bulls het nie eerste punte in tweede helfde aageteken nie. Dan du Preez van Sharcks wel.

Frans C ·

So goed as wat Pollard pale toe skop so swak was Robert du Preez.Waarom daar steeds
aan hom vasgeklou het sal net sy Pa weet,want benewens sy swak skopwerk het sy swak verdediging ook tot die Bulle se drie gelei.

Die grootste raaisel vanjaar is die onbestendigheid van baie spanne, een week goed ander week swak soos bv die Waratahs.

Bantam ·

Schalk het nie vewag dat Akker hom so goed op sy hel sal gee nie . Wat n pak slae !!

Frans C ·

Hoe gouer hoe beter daarvan van ‘law’ 19 (22) The hooker from the team which threw in the ball must strike for the ball. Sanction: Free-kick.’ ontslae geraak word ,hoe meer gelyk sal skrums word.

Dit was Saterdag weer duidelik toe die Bulle die Sharks in die beslissende skrum,wat tot ‘n wen strafskop gelei het,vermorsel het.Sodra enige voorspeler in die voorry van die span wat die bal ingooi,sy voet oplig is die balans in die voorry weg en kan die opponente dit met ‘n agt man poging dit uitbuit.

Wysig dit sodat beide spanne verplig word om die bal te haak,want tensy jy oor ‘n baie sterk voorry in die agtal het word die ingooi eerder ‘n nadeel as voordeel en ‘n gemors agter die skrum en is die bal sou stadig dat losskakels en skrumskakel dit eerder wegskop asom dit te versprei.

bolla ·

Daai reel het mos nou onlangs weer so verander. Die probleem natuurlik is dat wanneer niemand verplig word om te haak nie en die skrums ewe sterk is, gaan niks gebeur nie omdat die skrum dan nie vorentoe of agtertoe beweeg nie. Laasgenoemde probleem is natuurlik nog tot in die onlangse verlede omseil (en dit gebeur steeds) deurdat die skrumskakel die bal skeef ingooi.

Hendrik UAE ·

Frans C,Dankie man.Ek het nie van die reel geweet nie.In my dae het albei hakers gehak en die bal is in die middel ingegooi. Nooit daaraan gedink dat een voet op die ander span ‘n voordeel gee nie.Maak nou sin vir my.

Frans C ·

Hulle maak dit so ingewikkeld dat alles in ‘n groot gemors verander.Ek het weereens op world rugby se webblad gaan kyk.Jy kry dit by https://laws.worldrugby.org/?law=19
en kon nie die verandering opspoor waarvan Bolla praat nie.
Dit hoef nie noodwendig die haker te wees wat die bal haak nie.Enigeen in die voorry kan dit doen.Die probleem is dat om die probleem te oorkom gooi skrumskakels die bal so skeef in dat dit soms onder die slotte beland.

Wanneer beide spanne verplig word om die bal te haak,gaan vinnigste voet ,soos in die verlede weer vaskoppe wen.Kyk maar hoeveel keer spanne te vroeg inslaan op die opponent wat die bal moet ingooi,want daar is ‘n voordeel verbode aan ‘n agtman skrum
op die teenstander se ingooi.

Hendrik UAE ·

Dis waarom jy ‘n korter haker gekies het,want het hy tussen die stutte gehang en sy werk was om te hak in die skrums.,n Span het gewerk vir die bal soos slotte wat gespring het en nie ‘n kilometer hoog opgetel nie.Ek sou hoogtevrees gekry daar bo.Die obstruksie reel waar die bal draer agter 7 manne mag aan loop van ‘n lynstaan af en die ander span kan nie meeding nie is net so ‘n onding.Ek klink nou tipies soos ‘ n ou wat net se die ou tyd was beter ,maar party reels was net makliker verstaanbaar en daar was meer kompetisie gewees .Vandag se tyd sal ek permanent in die koelkas wees.

jakes ·

Hoe gouer die Du Preez broers en Akker na Sale Sharks verhuis hoe beter vir SA rugby. Dit was skandalige gedrag op die rugbyveld deur albei hakers. Robert du Preez en sy boetie se rugby vaardighede is nie op standaard nie en dis hoogtyd dat Gary Teichman vir afrigter Du Preez in die pad steek. Alhoewel die Bulle gewen het, was die standaard van rugby power.

Nico K ·

Ek hou nie van die du Preez’s nie, maar ek moet sê dat Robert se skopwerk normaalweg briljant is. Die een dag toe hy swak skop, toe maak dit ‘n verskil aan die uitslag. En Jean Luc sal ek in vir die Springbokke kies.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.