Bulls wil dinge warm maak vir Benetton

Kurt-Lee Arendse op die oorlogpad. Foto: GB Jordaan.

Volgens die weervoorspelling-funksie op jou slimfoon sal dit 23°C wees wanneer die Bulls en Benetton môre kragte op Loftus Versfeld meet.

Die tuisspan sal egter probeer om dinge heelwat warmer vir Benetton op die speelveld te maak – die Italiaanse klub het immers vroeër vir ’n opskudding gesorg toe hulle ’n goeie Bulls-span met 35 – 8 in die eindstryd van die Reënboogbeker geklop het.

Maar daar het intussen baie water in die see geloop: Die Bulls speel weer goeie rugby ná ’n stadige aanloop tot die Verenigde Rugbykampioenskap-reeks en hulle het al onder meer met Munster en Ulster op Loftus afgereken.

Soos wat Leonardo DiCaprio se karakter in Blood Diamond gesê het: “This is Africa” (Pretoria om presies te wees) en die Bulls is gereed om die besoekers ’n ding of twee te wys.

“Benetton het die eerste wedstryd gewen en ons het daardie hou op die ken gevat. Maar sedertdien het ons baie as ’n span gegroei,” het Marcell Coetzee (Bulls-kaptein) gesê.

“Ons wil hulle in Suid-Afrika welkom heet. Ons hoop hulle het ’n goeie tyd hier, maar op die speelveld gaan dit ’n ander storie wees.”

Jake White het ’n sterk span gekies met Kurt-Lee Arendse en Madosh Tambwe die gevaarmanne in die agterlyn.

Die ervare kombinasie van Cornal Hendricks en Lionel Mapoe sal die senterpaar wees, terwyl Elrigh Louw en Cyle Brink ’n sterk lostrio met Coetzee vorm.

Die wedstryd begin môre om 14:00 en die aksie sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word. Selfs al is daar ’n 20% kans vir reën beloof dit om ’n lekker herfsdag in Pretoria te wees; jy kan dus trots jou Bulls-trui sonder enige baadjie of serp dra.

Bulls: Kurt-Lee Arendse (heelagter), Canan Moodie (regtervleuel), Lionel Mapoe (buitsenter), Cornal Hendricks (binnesenter),Madosh Tambwe (linkervleuel), Chris Smith (losskakel), Embrose Papier (skrumskakel), Elrigh Louw (agtsteman), Cyle Brink (flank), Marcell Coetzee (kaptein en flank), Ruan Nortjé (slot), Walt Steenkamp (slot), Mornay Smith (stut), Johan Grobbelaar (haker) en Gerhard Steenekamp (stut). Plaasvervangers: Jan-Hendrik Wessels, Simphiwe Matanzima, Dylan Smith, Janko Swanepoel, Arno Botha, Zak Burger, Morné Steyn en Stedman Gans.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.