Bulls wil spiere teen Benetton bult

Marcell Coetzee lei die Bulls op die veld. Foto: GB Jordaan.

“Wraak” is dalk ’n te sterk woord om die Bulls se doelstellings te beskryf wanneer hulle die naweek teen Benetton op Loftus Versfeld speel, maar hulle sal beslis die bordjies teen die Italiaanse klub wil verhang.

Want op 19 Junie 2021 het die Bulls sleg teen Benetton in die eindstryd van die Reënboogbeker in Italië verloor.

Hoewel ’n mens reeds vóór daardie wedstryd geweet het dat die Pretorianers effens in die vreemde sou sukkel – hulle was immers sonder die dienste van Morné Steyn en Duane Vermeulen – het die eindtelling (35 – 8) gesorg dat die meeste Bulls-ondersteuners aan hul boegoebrandewyn stik.

Maar onlangs het die Bulls egter met die Lions, Zebre, Munster, Scarlets, Dragons en Ulster afgereken, terwyl hulle ’n naweek of so gelede met net twee punte teen die Stormers in Kaapstad verloor het.

Hulle sal nie sommer weer deur ’n Italiaanse span onkant betrap word nie. Daarbenewens speel hulle nou ook op Fort Loftus; ’n stadion waar hulle – om vir Steve Hofmeyr aan te haal – nie van die vloer af eet nie.

“Ná ons laaste wedstryd teen die Stormers weet ons nou presies waaraan ons moet skaaf vir ons stryd teen Benetton – ons sal goed voorbereid wees,” het die Bulls se Nollis Marais gesê.

Chris Smith laat waai voor ’n vol Loftus-pawiljoen. Foto: GB Jordaan.

Boonop het die Pretoriase unie ook aangedui dat kaartjies vir die wedstryd vanaf R25 beskikbaar is, terwyl kinders gratis toegang tot die stadion sal verkry.

Willem Strauss (president van die Blou Bulle Rugby-unie) het juis in ’n vorige onderhoud met Maroela Media gesê dat daar altyd ’n moontlikheid van ’n “special” of twee is wat kaartjiepryse betref.

“Dit is verskriklik lekker om weer ondersteuners in die stadion te hê, en die spelers ervaar die skare se geesdrif as aansteeklik. Rugby is immers ’n toeskouersport,” het Strauss gesê.

En die Bulls sal hul ondersteuners op sjampanje-rugby wil trakteer.

Die wedstryd begin Saterdag om 14:00.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Lourens

Solank as wat hulle die inspuiting of covidtoets afdwing, sal ek en baie van my mede-Bulle nie gaan nie, al gee hulle die kaartjies verniet weg.