Bulls wil Stormers se VRK-houvas breek

Die Stormers-agterlyn het al vantevore teen die Bulls baljaar. Foto: Twitter.

Die Bulls se selfvertrouebeker is normaalweg tot oorlopens toe vol wanneer hulle op Loftus Versfeld kan uitdraf.

Maar nou, met die Noord/Suid-derbywedstryd teen Stormers net ʼn paar dae weg, moet die senuwees sekerlik so ʼn bietjie knaag: Hulle wen immers nie sommer ʼn Verenigde Rugbykampioenskap-wedstryd teen die Kapenaars nie.

Die twee spanne het al vier keer in hierdie toernooi swaarde gekruis met die Stormers wat elke keer as oorwinnaars van die veld gestap het .

John Dobson se span het nie net verlede jaar se eindstryd met 19 – 17 in Kaapstad gewen nie, maar hulle het ook net vóór Kersfees in die jongste tweestryd koning gekraai toe Leolin Zas en Suleiman Hartzenberg hopeloos te veel woema vir die Bulls-verdediging gehad het.

Selfs al het die Kapenaars toe ʼn paar sleutelspelers aan beserings afgestaan, het hulle gewys dat hulle steeds ʼn gedugte eenheid kan wees. Daar is trouens min dinge so mooi in Suid-Afrikaanse rugby as die Stormers-agterlyn in volle vaart.

Cornal Hendricks op die voorvoet. Foto: GB Jordaan.

Tog meen Cornal Hendricks dat die Stormers nie ʼn sielkundige houvas op die Bulls het nie.

Of altans nog nie.

“ʼn Mens kan egter nie wegskram van die feit dat die Stormers ʼn baie goeie rugbyspan is nie en hulle verdien ongetwyfeld krediet – tot op hede was hulle die beter span,” het die ervare Bulls-agterlynspeler gesê.

“Ons werk egter baie hard om op ons beste teen hulle te wees en die tweestryd sorg altyd vir ʼn goeie wedstryd. Hopelik swaai die tuisskare se ondersteuning dinge in ons guns; dit is altyd spesiaal om op Loftus te speel.”

Die wedstryd begin Saterdag om 17:05 en die aksie sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

Uitslae van die vorige VRK-wedstryde tussen die Stormers en die Bulls:

  • Stormers 30 – 26 Bulls in Pretoria (22 Januarie 2022)
  • Stormers 19 – 17 Bulls in Kaapstad (9 April 2022 – eindstryd)
  • Stormers 18 – 13 Bulls in Kaapstad (18 Junie 2022)
  • Stormers 37 – 27 Bulls in Kaapstad (23 Desember 2022)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Andrew ·

Die vorige twee wedstryde het Bulle te veel geel kaarte gehad, begin sommer daar as hulle wil beter doen.

Leon ·

Die skeidsregter sal soos in die verlede maar eintlik bepaal.
As noord transvaal wen is dit die ref se besluit

MAGRIETHA ·

Jaen en kyk wie blaas —-Bulls sal moet korrekte rugby speel en foute beperk die blaser gaan hul looi

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.