Bulls wys emmersvol karakter in Melbourne

Cornal Hendricks het een van die Bulls se drieë gedruk. Foto: Facebook.

Pote Human het gepleit dat die Bulls diep moet delf  vir vanmiddag se kragmeting teen die Rebels in Melbourne.

En mens kan sy pleidooi verstaan: ná verlede naweek se loesing op Loftus teen die Crusaders en Handré Pollard wat seker al op die internet begin rondsoek het na wat ’n Franse visum kos, het die Pretorianers se Superrugby-vooruitsigte maar bra vaal gelyk.

Tog het die Bulls – getooi in hul groen wegmondering – hul toer na Australasië op die beste manier moontlik afgeskop, toe hulle die Rebels 32–17 op AAMI Park geklop het.

Mens glo nie werklik in tekens vooraf om die uitkoms van ’n kragmeting te bepaal nie, maar toe die bal vandag net ná die afskop reg vir Schalk Brits gebons het – onthou verlede week se fiasko toe die bal oor Pollard se kop en in Richie Mo’unga se gewillige hande gehop het – het jou hart sommer rustiger begin klop.

Cornal Hendricks en Pollard het voor rustyd drieë vir die besoekers gedruk, en al het Marika Koroibete se drie in die tweede helfte gesorg dat die Rebels weer gelyk trek, het die Bulls stelselmatig ’n goeie houvas op dié wedstryd begin kry – iets wat gesorg het dat die tuisspan die spel begin jaag het.

Toe Rosko Specman (uiteindelik) sy vyfde drie van die seisoen in die 69ste minuut gedruk het, was die koeël so te sê deur die kerk. En Pollard se vyfde suksesvolle stelskop was die laaste spyker in die Rebels se doodskis.

Kritici sal weer eens fout met hul spel vind, maar die wyse hoe die Bulls teruggekom het ná verlede week se vernedering, verdien baie respek.

Hulle het nou saam met die Jaguares – wat vroeër vandag die Hurricanes in ’n skitterende wedstryd geklop het – 32 punte op die SA punteleer.

  • Puntemakers:

Bulls: Drieë: Cornal Hendricks, Handré Pollard, Burger Odendaal, Rosko Specman. Doelskoppe: Pollard (3). Strafskoppe: Pollard (2).

Rebels: Drieë: Marika Koroibete (2), Will Genia. Doelskop: Quade Cooper.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

kolla ·

Wel, slaan my plat met ‘n pap snoek. Nulle wen oorsee, kan jy dit nou glo. Mooi so manne.

Kerneels ·

Kolla, doen julle stompies nou dieselfde more vi ons, man. Ek belowe ek sal vi julle skree (saggies)

Swartwolf ·

Dalk moet jy bid vir jou stompies om nie more NUL te kry nie……

Swartwolf ·

Netjies – weer No 1 op SA log ! Vier driee oorsee min SA spanne kry dit reg.

Kerneels ·

Ag ou riaan, ons wenne so skaars deesdae, veral oorsee, ons maak maar die beste daarvan!

Swartwolf ·

Sien nie enige kommentaar wat jou aanmerking reflekteer nie dalk is jy op die verkeerde webblad.

Ai. ·

Ja nee ou gatiep slat jou plat met n pap snoek..Jy se toe mos en hulle die nulle moet nog oorsee gaan speel en en en….
Maar nou le die Crusaders en wag vir julle…..eishhh.
Moet ok maar herken my vetroue is min in die bulle… Maar hey jul stormpie span is mos vol van die werfbokke soos dit gee ons almal mos dan baie hoop die cream deux mos van die springende werfbok span.. Amper soos n toets moet dit dan mos wees die Stompies teen die Crusaders…Kan nie wag nie ou kolla kan nie wag nie..

Naas ·

Ek is bly vir die Bulle, maar hulle foeter my Superbru punte op met die wisselvalligheid.

Cuda ·

Mooi Bulle. Juule maak ons trots. Well done. Ignoreer net asb die kritiek…..van sekere ouens..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.