Bulstryd kom in die Lions se middelveld

Rohan Janse van Vuuren kry sterk teenstand op binnesenter by die Lions Foto GB Jordaan

Rohan Janse van Vuuren kry sterk teenstand op binnesenter by die Lions Foto GB Jordaan

Die Lions wat Saterdag (15:00) by Wits teen die SupaBarbarians uitdraf, sal nie soos baie verwag ʼn aanduiding gee van wat Johan Ackermann en Swys de Bruin vir die Superseisoen in die mou voer nie.

Daar is wel ʼn hele paar spelers met Superervaring vir die opwarmwedstryd gekies, maar geen groot aanduidings van die afrigters se dinkproses vorentoe nie. Die wedstryd kan in vele opsigte as ʼn soeke vir die regte speler beskou word.

Die grootste nuus is ongetwyfeld die terugkeer van Harold Vorster, wat voor sy twee beserings voorlaasjaar en toe weer vroeg verlede jaar, die rugbywêreld gaande gehad het.

Toetsrugby was vir hom bestem toe hy seergekry het – en nou is hy terug, op binnesenter, vir die Lions waar hy sy plek teen die ewe goeie maar ander soort speler, die sterk nuwe Springbok Rohan Janse van Rensburg, sal moet oop speel.

Daar kan nie twyfel wees dat hulle albei vir die Lions ingesluit kan, en behoort, te word nie, selfs met Lionel Mapoe steeds daar wat saam met Janse van Rensburg baie effektief was.

Die Lions het manne soos Corné Fourie, Robbie Coetzee, Andries Ferreira, Lourens Erasmus en Cyle Brink ook ingesluit. Ross Cronjé sal die span van skrumskakel af aanvoer.

Hierdie ervare manne is seker met ʼn doel gekies. Fourie, in die plek van die beseerde loskop Dylan Smith, die slotte Andries Ferreira en Lourens Erasmus wat op sal meeding vir die opdrafposisie, Cyle Brink wat sal uithaal om die pas-uitgetrede Warren Tecklenburg se plek vol te staan en Robbie Coetzee, wat met Akker van der Merwe (op die bank) en die Bok Malcolm Marx om ʼn plek as twee van die hakers sal meeding.

In die soektog om plaasvervangers vir die beseerde stutte Julian Redelinghuys en Smith te vind,  is Hencus van Wyk, wat al vir die Bulls en heelwat vir die Blou Bulle gespeel het, ook op die bank ingesluit, terwyl Johannes Jonker van die Grens op vaskop gekies is.

Daar is ook ʼn hele klomp van verlede jaar se juniors in die groep van 28 ingesluit, met van die manne wat toe nog o.19 was.

Lions –

Gerrie Labuschagne Madosh Tambwe, Jacques Nel, Harold Vorster, Selom Gavor Shaun Reynolds, Ross Cronjé Fabian Booysen, Cyle Brink, Robert Kruger, Lourens Erasmus, Andries Ferreira, Johannes Jonker, Robbie Coetzee, Corné Fourie. Bank: Akker van der Merwe, Sti Sithole, Hencus van Wyk, JP du Preez, Bobby de Wee, Hajcivah Dayimani, Victor Sekekete, Dillon Smith, Eddie Fouché, Gerdus van der Walt, Jarryd Sage, Dean Gordon, Jeanluc Cilliers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.