‘Bunkerstelsel’ geld vir Wêreldbeker

Engeland se Freddie Steward word deur Japan se Kotaro Matsushima getekkel. (Foto: Glyn Kirk / AFP)

Die “bunker”-stelsel en skophorlosie vir doelskoppe sal albei in vanjaar se Wêreldbeker-rugbytoernooi toegepas word.

Wêreldrugby het Maandag dié aankondiging gemaak te midde van ʼn herrie wat ontstaan het rondom ʼn besluit om ʼn rooi kaart vir die Britse rugbykaptein Owen Farrell, na ʼn geel kaart om te keer.

Dié stelsels het ten doel om die vloei van die spel te bespoedig en is reeds in verskeie ander kompetisies soos die Rugbykampioenskap en die huidige opwarmingswedstryde vir die Wêreldbeker getoets.

Die bunker-stelsel stel beamptes in staat om te herbesin oor die erns van ʼn bepaalde oortreding, sonder dat die spel vir etlike minute onderbreek word. Volgens Wêreldrugby moet dit die skeidsregter help om te besluit of ʼn oortreding ʼn rooi kaart eerder as ʼn geel kaart regverdig, deur die speler vir tien minute van die veld af te stuur, terwyl die bunker-beampte alle beskikbare materiaal gebruik om die besluit te hersien. Volgens Wêreldregby berus die finale besluit egter steeds by die skeidsregter.

Dit is tydens die einste bunker-stelsel dat Farrell se aanvanklike geel kaart verlede naweek na ʼn rooi kaart omgeskakel is, tydens ʼn Wêreldbeker-opwarmingswedstryd teen Wallis. Die geel kaart is toegedien weens ʼn gevaarlike skouerloop op Taine Basham.

Die besluit om die geel kaart na ʼn rooi kaart op te gradeer, is egter later wéér deur ʼn dissiplinêre paneel omgekeer, nadat Farrell se prokureurs die paneel van inligting verskaf het. Laasgenoemde het ʼn stortvloed kritiek teenoor Wêreldrugby ontketen. Wêreldrugby het intussen teen dié besluit geappelleer en ʼn nuwe verhoor vind Dinsdag plaas.

Die skophorlosie wys vir spelers hoeveel van die 90 sekondes hulle oor het om ʼn doelskop te neem en die 60 sekondes wat hulle het om ʼn strafdoel aan te lê. Die tyd word op ʼn skerm op die veld vertoon.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

piet ·

“n Paar spelers soos Van Staden en kwakkies kan maar permanent na die bunker gestuur word. Kry spelers soos Fourie wat ‘n bydrae kan lewer op die veld.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.