Buurmanne VSA, Kanada spook dit uit om Wêreldbekerplek

Daar is twee toetse die naweek, benewens dié tussen die Springbokke teen Frankryk en die All Blacks teen die Britse en Ierse Leeus, wat vir die deelnemende lande belangrik en vir die buitestaander interessant sal wees.

Die naweek se relatief oninteressante kragmetings van Wêreldrugby is Vrydag ingelui met Wallis se sege van 19-17 teen Samoa. Wallis is natuurlik kwaai verswak met sy groot kanonne wat op toer is saam met die Britse en Ierse Leeus.

♦  Die belangrikste – en die interessantste – van die toetse wat Saterdag gespeel word, is in Hamilton in Ontario, Kanada.

Die Kanadese speel teen hul buurmanne, die Amerikaanse Arende.

Aanstaande naweek meet die twee spanne in San Diego in Kalifornië kragte. Die wenner op punteverskil sal in 2019 in die Wêreldbekertoernooi in Japan speel; die verloorder sal die Suid-Amerikaanse uitspeelwenner, waarskynlik Uruguay, ook oor twee wedstryde moet klop.

Die waarskynlike wenner, as die onlangse verlede tel, sal die VSA wees. Kanada het verlede naweek met 5-25 op sy tuisveld teen Roemenië verloor.

Die Arende se afrigter, John Mitchell, meld ná die twee toetse by Loftus aan waar hy as direkteur van afrigting aangestel is.

♦  Die wedstryd tussen Argentinië en Georgië sal ook interessant te wees. Georgië is besig om elke jaar ʼn stappie vorentoe in wêreldrugby te neem, en dit sal interessant wees om hul vertoning teen een van die vier lande te meet wat aan die Rugbykampioenskap deelneem.

♦  Die Wallabies sukkel. Of hulle genoeg sukkel om tuis teen Italië te verloor, sal Saterdagoggend moet leer.

Die ander bepalings (tuisspanne eerste) –

Fidji teen Skotland
Australië teen Italië
Japan teen Ierland
Kanada vs VSA
Argentinië vs Georgië

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.