Byna 20 000 by All Blacks se ‘oefening’ voor Wallaby-stryd

Hoe moeg rugbyondersteuners vir Superrugby is, is Vrydag in Christchurch deeglik geïllustreer toe daar 19 600 toeskouers vir die sogenaamde “wedstryd van drie helftes” in Christchurch opgedaag het.

Twee weke gelede was daar, óók in Christchurch, net meer as 8 400 toeskouers toe die Superrugby-kampioenspan Crusaders die halfeindstryd teen die Hurricanes gewen het.

Die All Blacks se spelers het geen ernstige beserings opgedoen nie, met 32-0 en 45-5 teen onderskeidelik die spanne van Otago en Canterbury gewen; en hulle is nou ʼn oefenlopie vóór die ander drie spanne wat aanstaande week in die Rugbykampioenskap afskop.

Natuurlik was dit maklik vir die All Blacks teen dié twee spanne, met Canterbury wat die reeks sonder hul tien Crusaders-spelers in die All Blacks-span moet aanpak.

Die All Blacks het 15 drieë in hul 80 minute gedruk ‒ ses in die eerste 40 minute teen Otago en toe agt in die helfte teen Canterbury. (En vir die rekord, in hulle 40 minute teen mekaar, het Otago met 28-12 teen die Cantabs gewen.)

Ondanks die groot tellings was die 80 minute vir die nasionale span die moeite werd en was daar kans om skuiwe te maak en kombinasies op te weeg.

Daar was uiteraard ʼn aantal “spioene” van die Wallabies by die wedstryd, maar hulle sou nie veel wys geword het uit wat ten volle aan die benaming “oefenwedstryd” voldoen het nie.

Die All Blacks spring aanstaande Saterdag in die Rugbykampioenskap teen die Wallabies weg, en dit sal nie noodwendig ʼn maklike sege beteken nie ‒ omdat die All Blacks hul eerste wedstryd in Sydney op Australiese bodem speel.

Die wedstryd is ook die eerste van hul drie Bledisloe-kragmetings.

Die All Blacks se afrigter Steve Hansen se uitlating gedurende die week dat die Wallabies ʼn goeie wenkans het, is oral met ʼn knippie sout aangehoor.

Tog is dit nie so vergesog nie. Die All Blacks het verlede jaar in Brisbane ná 15 oorwinnings sedert 2015 die eerste keer teen die Australiese span vasgeval. Hulle is met 23-18 geklop.

Die Aussies moes teen die einde van die wedstryd vir al wat hulle werd is, walgooi nadat hulle danksy Reece Hodge se twee laat strafdoele die voortou geneem het.

Maar hul oorwinning was nietemin verdiend, en hulle glo vas hulle kan dit oor ʼn week herhaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Oud rugby ondersteuner ·

Rugby het ‘n “een land” sport geword met die All blacks wat alles oorheers. Baie vervelig en voorspelbaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.