Cardiff loop lig vir Pretorianers se voorspelers

Marcell Coetzee sal die Bulls-herlewing in Europa moet aanvuur.  Foto: GB Jordaan.

Ná twee agtereenvolgende nederlae behoort die Europese rugbyspanne nie meer so skrikkerig vir die Bulls te wees nie. Tog meen Dai Young dat die Pretorianers steeds ’n gevaar op ’n rugbyveld is.

“Ek het gedink dat verlede week se eindtelling (34 – 7) eintlik ’n bietjie vir Connacht gevlei het. Die Bulls was beter as dit,” het Cardiff se direkteur van rugby gesê.

Hy het sy spelers ook gewaarsku dat die Bulls een of ander tyd in Europa sal begin wen; dalk selfs hierdie naweek teen Cardiff.

“Hulle sal so gou as moontlik die bordjies in Europa wil verhang en die komende wedstryd bied hulle die perfekte geleentheid om dit te doen. ”

Volgens Young is die Bulls se wedstrydbenadering ook geen staatsgeheim nie.

“Hulle sal na hul sterk pak voorspelers kyk om vir hulle die nodige momentum te gee. Ons sal hulle nie net fisiek moet aanvat nie, maar terselfdertyd ook sorg dat hulle op verdediging rondskarrel.”

Dit sal die Walliese span se eerste proesel van Suid-Afrikaanse rugby in die reeks wees.

“Almal praat van Superrugby en dit sal goed vir die spelers wees om te sien waaroor die bohaai gaan.”

Josh Adams op pad na een van sy vier drieë teen die Johannesburgers in die afgelope Britse en Ierse Leeus-reeks . Foto: Christiaan Kotze/AFP.

Josh Adams, die internasionale driedrukmasjien, draf ook in die kleure van die Cardiff Blues uit en hy het juis ’n drie in verlede week se wedstryd teen die Ospreys gedruk.

Dan het Jake White vroeër die week gesê dat die Bulls se pad in die Verenigde Rugbykampioenskap net steiler kan word.

“Daar is nie iets soos ’n maklike wedstryd in hierdie reeks nie. Cardiff het immers nou die dag met Connacht afgereken; dinge gaan net taaier word,” het die ervare afrigter gesê.

Die wedstryd begin Saterdag om 20:35 en dit sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Harley Davidson ·

Cardiff moet nie eers teen hulle speel nie met hulle kwotas sisteem gebaseer op die kleur van ‘n speler se vel.Hulle moet met daardie tipe diskriminasie net Currie beker speel soos tydens die apartheid jare.

Harley Davidson ·

N span gekies op meriete ongeag kleur of ras,sonder die regering se rasistiese beleid van kwotas gebaseer op velkleur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.