Carlton daag Curriebeker op Loftus Versfeld

Die Carltonbeker

Dis selde dat ʼn voorwedstryd met die hoofwedstryd meeding om die meeste belangstelling gaande te maak, maar dis wat die geval met Saterdag se wedstryde op Loftus Versfeld in Pretoria is.

As die hoofwedstryd boonop ʼn derbystryd tussen die Blou Bulle en die Goue Leeus is, klink dit kwalik denkbaar.

Vergeet dat die studente die houer van die Varsitybeker is; vergeet dat Pretoria Polisie, een van QBR se samestellende klubs, verlede jaar een van die agt topklubs in die land was.

Wanneer die Tukkies en Quins-Bobbies-rugby (QBR) Saterdag die eindstryd om die Carltonbeker uitspook, is dit die voortsetting van ʼn bloedvete wat geslagte lank kom.

Jare lank was daar geen Carltonwedstryd wat die verbeelding so aangegryp het as ʼn botsing tussen die Tukkies en Polisie nie … en met die herlewing van klubrugby in die bond kan Pretoria se rugbylui nie wag vir die “hervatting” daarvan nie.

Tensy die deurwinterde Chris Buitendag, die Tukkie-afrigter, ʼn troef optower, is QBR waarskynlik net-net die gunsteling om die kragmeting te wen.

Dat die spanne mekaar heup en skenkel sal slaan, ly g’n twyfel nie, ook nie dat ʼn paar Polisiespelers, wat met die samesmelting met Harlequins ander weivelde gaan soek het, nou baie spyt daaroor is nie.

Westelike Provinsie

♦ In die Westelike Provinsie se Superliga A het Unie-Milnerton grootliks verras deur Tygerberg, ʼn promotorskeuse vir vanjaar se klubreeks om die Goue Beker, met 38-6 af te ransel.

Die voorloper, Valsbaai, het oortuigend met 28-12 teen Durbanville-Bellville gewen; die Maties het Belhar met 109-7 verrinneweer; die Victoriane het Pniel Villagers met 94-3 verniel.

NTK het met 15-13 teen Schotschekloof Walmers (SKW) gewen, en die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) was met 31-7 teen Primrose baas.

St Georges loop voor in die Superliga C, terwyl Busy Bees, Vineyards en All Saints in die Superliga C in ʼn verbete driehoekstryd gewikkel is.

Saterdag se kragmeting tussen Busy Bees en All Saints kan deurslaggewend in dié opsig wees.

Manenberg Rangers het die Stadsliga gewen, Blue Jets die Noorderliga en Young Wesleys die Suiderliga.

Hulle ding nou saam met Masiphumele, Caledonian Roses, Blue Stars United, Van der Stel/Evergreens, Noordelikes en Retreat in die Top9-promosieliga om drie plekke in die Superliga C mee.

Allandale het die Paarlliga gewen.

Oostelike Provinsie

♦ Progress van Uitenhage het Saterdag die Oostelike Provinsie se jongste verteenwoordiger in die klubreeks om die Goue Beker, Port Elizabeth Polisie, in die wedloop om die OP-kroon gepootjie.

Progress het hul kragmeting in die kwarteindronde met 38-20 gewen.

Die bond se Grootuitdaag-kampioen, Gardens (Uitenhage), het met ʼn stewige 41-13 teen Kruisfontein (Humansdorp) gewen, en PE Harlequins het die meermalige SA klubkampioen, Despatch, met 36-26 geklop.

Park (PE) het met 35-23 teen Star of Hope (Uitenhage) gewen.

Goue Leeus

♦ Raiders het sy goeie vertoning vanjaar in die Goue Leeus-rugbyunie se Pirates-grootuitdaagreeks (PGU) voortgesit deur Randfontein met 63-26 te oorweldig.

Wits het Pirates, die bond se beste Goue Beker-verteenwoordiger verlede jaar, met 17-12 geklop; die NWU Pukke het 28-0 teen Roodepoort gewen; en die Universiteit van Johannesburg (UJ) het Wanderers met 31-10 verslaan.

In die stryd om die Bailybeker het Germiston Simmer met 11-12 teen Unie vasgeval; Johannesburg Polisie het Harlequins van die Wes-Rand met 31-13 getroef; en Alberton het oortuigend met 31-12 teen Diggers gewen.

Boland

♦ Die kwarteindstryde van die Bolandse Rugbyunie (BRU) se reeks om die Grootuitdaagbeker vind Saterdag in die Bolandstadion op Wellington plaas.

Die verdedigende kampioen, Hawston, speel teen Hillcrest United van Wellington (16:00); Roses United van Wellington teen Atlantics van Hermanus (10:30); Robertson teen Darling (12:20); en Wesbank van Malmesbury teen Worcester Villagers, wat die bond verlede jaar in die reeks om die Goue Beker verteenwoordig het (14:00).

Suidwestelike Distrikte

♦ Progress van George het hom Saterdag verder as ligavoorloper ingegrawe deur die Suidwestelike Distrikte (SWD) se verdedigende kampioen, Evergreens van Pacaltsdorp, met 26-22 te verslaan.

Maori’s (George) het die Nelson Mandela- Metropolitaanse Universiteit (NMMU) se plaaslike kampus met 36-12 oorrompel.

Die topvier in die Premierliga bly onveranderd en Saterdag se wedstryde sal die kwarteinders finaal uitwys.

Progress is steeds eerste (71 ligapunte), Bridgton van Oudtshoorn tweede (60), Evergreens derde (57) en Barbarians van Mosselbaai vierde (55).

KwaZulu-Natal

♦ Die KwaZulu-Natalse Rugbyunie (KZNRU) se uitklopreeks om die Murraybeker keer na sy ou formaat terug, en die agt topspanne in die Premierliga spook Saterdag volgens rangorde (1 teen 8, 2 teen 7, ens) sake in die reeks uit. Die South Coast Warriors (SCW) vervang Richardsbaai in die groep.

Die Premierreserweliga se spanne ding om die Peter Taylorbeker mee, die Eersteligaklubs om die Junior Murraybeker, en hul tweede spanne om die Keith Parkinsonbeker.

Valke

♦ André Hartley, die voorsitter en hoofafrigter van Edleen Spar Kempton Wolwe, laat weet die klub het die eerste keer sedert 1989 onoorwonne tot in ‘n uitspeelronde gevorder.

Die klub het dit 28 jaar gelede in die destydse Presidentsliga vermag, en hy skryf vanjaar se prestasie toe aan ʼn stewige vertoning, onderlê deur uitstekende toewyding van spelers en afrigters.

Kempton het sy jongste wedstryd in die Valke se Merlinliga teen die Vaal Universiteit vir Tegnologie met ʼn oorweldigende 59-5 gewen.

Ferdi Erasmus, Zach van Loggerenberg, Dwaine Els (twee), Jacques de Jager, Emwee du Toit, Francois Wolfaardt, Janu du Toit en Jaco Kritzinger het die wenspan se drieë gedruk, en André Smith het sewe daarvan verdoel (14 punte).

Op die spanfoto regs hierbo verskyn (agter) André Hartley (hoofafrigter), Wayne Sheffryk, Mike van Vuuren, Ferdi Erasmus, Emwee du Toit, Gertjie Roets, Jean Visser, Jacques de Jager, Nico Engelbreght, Hannes Venter, Erwune du Plooy, Willie Smith (tegniese assistent); (middel) Brandon Bezuidenhout, Jaco Kritzinger, Dwaine Els, Egbert van der Merwe, Zac van Loggerenberg (kaptein), Francois Wolfaardt, André Smit (onderkaptein); (voor) Chrissie Kasselman, Janu du Toit, Wayne Allen en Liana Hartley (spanbestuurder). (Foto: Angie van Loenen).

Die Buffels in aksie teenVanderbijlpark. (Foto: Verskaf)

♦ Uit Grootvlei berig Gouws Booysen, die voorsitter van die plaaslike Buffels, die span het Vanderbijlpark met 10-0 geklop om na die halfeindronde van die Valke se Kestrelliga deur te dring.

Hy bestempel die skeidsregter se beslissings as van die swakste wat hy al gesien het.

“Die Buffels kon gevolglik nie momentum opbou nie, en dit het die spelers negatief gestem.”

Die linkervleuel Nathan Richards en die flank De Wet Steyn het vir die wenspan uitgeblink.

Richards het ʼn drie gedruk wat deur Christiaan Pieters (losskakel) verdoel is. Laasgenoemde het ook met ‘n strafdoel geslaag.

Namibië

♦ Die Universiteit van Namibie is die derde agtereenvolgende jaar die land se Premierliga-kampioen nadat hy Wanderers van Windhoek met 42-28 in die eindstryd gelooi het.

Wanderers II het die bordjies verhang en Unam II met 32-17 verslaan om die Reserweliga te verower.

Die Eerste Liga is deur Grootfontein gewen, wat met 24-14 met sy buurman Etosha Lions van Tsumeb afgereken het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.