Carlton-voorsmakie wag; slotpaar druk saam ses

assupolDie Blou Bulle se klubondersteuners kry `n vroeë voorsmakie wat in vanjaar se Carltonliga A kan wag, wanneer vier klubs uit dié liga Saterdag sake in die halfeindronde van Groep A in die Noorderbonde se Assupolreeks uitspook.

Laasgenoemde reeks se laaste rondomtalieronde het onder meer `n slotpaar opgelewer wat saam ses drieë vir hul span gedruk het.

In die eindstryd speel Rustenburg Impala (Luiperds), die houer van die oop klubs se Goue Beker, op sy tuisveld teen die Naka Bulle, verlede jaar se Carltonnaaswenner; en Centurion, die Carltonkampioen, speel op sy tuisveld teen Quins-Bobbies-rugby (QBR), die nuwe klub wat uit een van verlede jaar se Goue Beker-kwarteinders, Pretoria Polisie, en Harlequins saamgestel is.
Impala en Naka het saam die meeste spanne in die halfeindronde en ook hul tweede en o.21-spanne pak mekaar op Rustenburg.

In die ander halfeindstryde in Groep A speel Tukkies II teen QBR II, en Tukkies o.21 teen die Universiteit van Johannesburg (Goue Leeus) se o.21-span.

Noordelikes teen QBR

qbrQBR se wegholoorwinning van 62-10 Saterdag oor Pietersburg Noordelikes op Polokwane, bring hom teen die verdedigende Carltonkampioen te staan in verreweg die nuwe klub se kwaaiste toets sedert sy totstandkoming.

Ben Eybers, QBR se voorsitter, sê tien beserings in Noordelikes se vorige twee wedstryde het hom uit die staanspoor op die agtervoet geplaas, maar `n vlagmanbeslissing in die 15de minuut het tot `n rooi kaart gelei wat QBR laat sukkel het om aan die gang te kom.

“Die afrigters Gert Mulder en Nico Luus het die spelers rustyd aangespreek, en in die tweede helfte was daar sjampanjerugby. Die voorspelers het puik balbesit aan die agterspelers gegee; en QBR Swart het met `n eindtelling van 62-10 geëindig.”

QBR se “ander eerste span”, QBR Rooi, het Noordelikes met 91-7 getroef. Die twee QBR-slotte Gunter Geyer (twee) en Wiets Botes (vier) het saam ses drieë gedruk, “en gewys dat daar ongelooflike diepte in die superspan is”.

Eybers wys daarop dat Quins se jeugklub Saterdag van 09:00 af sy ope dag aanbied, en nooi alle belangstellende laer- en hoërskoolspelers en hul ouers om dit by te woon.

Die klub se o.20- en o.21-span sal in vriendskaplike wedstryde in aksie wees.

ERU teen Centurion

centurion♦ Centurion het sy plek in `n tuishalfeindstryd verseker deur East Rand United (Valke) met 47-21 op die Reigerpark-ontspanningsterrein te klop.

Charles Pelser, die klubbestuurder van Centurion, sê die eerste span het hom goed van sy taak gekwyt en Kallie Barnard, JP du Plessis, Divan Nel, Albert Bakker (twee) en Edmar Marais (twee) het agter die pale gaan kuier.

Steven Moir het uitstekend met die skopskoen gevaar, en ses uit sewe doelskoppe deur die pale gejaag.

Centurion se tweede span het gemaklik met 59-31 gewen.

Tobie Els, Ruan Soekoe, Divan van As, Ignatius Venter, Rendo Rust (twee), Quintin Prinsloo (twee) en Macolm Griffiths het drieë gedruk. Griffiths was sy betroubare self om sewe daarvan te verdoel, wat sy bydrae op 19 te staan gebring het.

Pelser sê die o.21’s s’n was `n wipplankwedstryd, met albei spanne wat skouspelagtige rugby gespeel het.

Centurion het tot die einde hard geveg vir die oorwinning van 37-31.

Esje Esterhuyse het 17 punte met `n drie, drie doelskoppe en twee strafdoele aangeteken.

Damian Hogg het twee keer agter die doellyn gaan kuier en Charl Jacobs en Altus Delport elk een keer.

Pelser sê die harde oefeninge deur die week en die uitstekende spangees by al die spanne het veel tot die sukses bygedra.

Centurion o.20 het die Grizzlies van Tuine maklik met 26-3 in `n vriendskaplike wedstryd geklop.

brakpan-logo-252x300Tukkies teen Brakpan

♦ `n Wilde aangee kort voor die einde van sy wedstryd teen die Tukkies se Fezelas het die Goue Beker-semifinalis Brakpan (Valke) `n plek in die Assupolreeks se halfeindstryd ontsê.

Harry Nieuwenhuis, die voorsitter van Brakpan, berig dat met drie minute speeltyd oor die Panne op pad was om die “wendrie” onder die Tukkies se pale te gaan druk toe `n teenstander `n wilde aangee onderskep en 80 meter genael het om `n drie te druk wat die studente met 22-10 laat wen het.

Hy sê Arra Jordaan (stut) en Jaco Lotter (flank) het puik in die harde wedstryd gevaar, en agterlangs was Juan Botha uitstekend.

Hagen Mumba (vleuel) het `n drie gedruk, en Gido Horn het dit verdoel en met `n strafdoel geslaag.

Nieuwenhuis sê die Panne het sonder twee van sy stutte gespeel, en `n flank moes uiteindelik in die voorry uithelp. Boonop was die span se lynstaanwerk, normaalweg een van sy sterkpunte, ook nie op peil nie.

“Dis duidelik dat daar nog heelwat werk wag ná al die reën en wedstryde wat nie gespeel kon word nie. Ons glo egter dinge sal in die volgende paar weke vinnig verbeter.”

Impala teen Boksburg

♦ Danie Matthee, die voorsitter van Boksburg, laat weet Impala het hulle oorrompel en al drie Boksburg se spanne het goed slae gekry.

“Behalwe om te sê dat dit ons eerste wedstryde was, en dat die reën die afgelope weke oefening bemoeilik het, laat ons dit maar daar.”

naka-bulleNaka Bulle teen NWU Vaal

♦ Johann Riekert, die Naka Bulle se spanbestuurder, laat weet dié klub het al sy wedstryde teen die NWU Vaal ver gewen.
Die eerste span het met 73-0 gewen (rustyd 38-0), die tweede met 33-21, en die o.21-span met 90-12.

Juan van der Westhuizen was die beste voorspeler. Hy het goeie lynstaanbesit gewen, en sy algemene en vastespel was uitmuntend.

Jean Grobler, die beste agterspeler, se stelskopwerk, balverspreiding en verdediging was van groot waarde. Hy het 17 punte met `n drie en ses doelskoppe behaal.

Christoff Crail (twee), Gerhard du Preez, Jerome Bastick, Dirk Dippenaar (twee), Alec Mhlanga, Marcell Human (twee) en Etienne Storm het Naka se ander drieë gedruk. Dylan du Buisson het drie verdoel.

Groep B

♦  Potgietersrus (Limpopo) het verseker dat hy tuis teen Lonmin van Mooinooi (Luiperds) in die een halfeindstryd in Groep B speel deur die Universiteit van die Witwatersrand met 29-14 te klop; en Middelburg se oorweldigende sege van 68-7 oor die Silver Valke neem hom na Northam om die onoorwinne Rhinos aan te durf.

Wat die tweede spanne betref, speel Ferro’s (Pumas) tuis op Witbank teen Korrektiewe Dienste (Blou Bulle); en Wits (Goue Leeus) op sy tuisveld in Johannesburg teen die Blou Bulle se Tshwane Universiteit vir Tegnologie (TUT). Dis in werklikheid die studente se derde spanne omdat Wits se bestes om die Varsitybeker, en TUT s’n om die Varsityskild speel.

potgietersrusWits teen Potties

♦ Renier Labuschagne, die voorsitter van Potties (Limpopo), sê die Bosvelders het soos gewoonlik `n paar pragdrieë gedruk en die wedstryd in `n hoë tempo afgesluit.

“Dit was `n klipharde wedstryd en elke speler se stukkie hart, lakwerk en vasbyt het bygedra tot die oorwinning.”

Hans du Plessis, Juan Nel, Wikus Pretorius en Klaas Galane het Potties se drieë gedruk. Jan Vorster het drie verdoel en met `n strafdoel geslaag (nege punte).

Stephan Oosthuizen was die beste voorspeler – en die speler van die wedstryd. Vorster was die beste agterspeler.

Labuschagne sê Potties se voorbereiding is op koers vir die halfeindstryd, en hoewel die manne se lywe lekker seer is, is daar darem geen beserings nie.

middelburgSilver Valke teen Middelburg

♦ Herman van Niekerk, Middelburg se voorsitter, laat weet die klub se eerste span het die Silver Valke 68-7 en die tweede span met 69-0 oorrompel.

Ruan Stander het een van die eerste span se nege drieë gedruk, en almal verdoel om 23 punte aan te teken.

JP Schoonfeldt was die voorspeler van die wedstryd, en Frederik Greyling die beste agterspeler.

In die tweede span was Armand Els die beste voorlangs, en Eric Masangu die uitblinker in die agterlyn.

Groep C

♦ Groep C se halfeindstryde word op Bronkhorstspruit beslis, waar die tuisspan teen Oos-Rand Polisie, en Hartbeespoort teen Eersterust speel.

Polisie het sy plek verseker met `n sege van 22-14 (rustyd 13-7) Saterdag op die einste Bronkhorstspruit oor Tswaing; en Eersterust deur Transnetparke met 59-17 te verniel.

Tswaing teen Oos-Rand Polisie

♦ Jeremy Nel, die voorsitter van Oos-Rand Polisie, sê sy voorspelers het die wedstryd totaal en al oorheers en die bal van Tswaing se gevaarlike agterlyn weggehou.

“Die losskakel Jannie Theron het die wedstryd uit die staanspoor oorheers, en die slot Chandré van der Mescht het op albei spanne se ingooi vir balbesit van byna 100% uit die lynstane aan Polisie gesorg.”

Theron het `n strafdoel en `n doel (tien punte) behaal; Roedolf Erasmus (buitesenter) `n doel (sewe punte) en Quinton Smith (agsteman) `n drie.

Nel sê Polisie was op pad om `n bonuspuntdrie te gaan druk toe die wedstryd tien minute vroeg beëindig is omdat dit laat begin het.

Hy sê Tswaing het `n uiters gevaarlike en vinnige agterlyn, wat Polisie se agterlyn deurmekaar gehardloop het wanneer hulle die bal gekry het.

“Met meer balbesit vir Tswaing kon die uitslag dalk anders daar uitgesien het.”

♦ Mpho Makgatho, die voorsitter van Tswaing, laat weet Jeffrey Hlangwani en Mpho Makhubela het vir Tswaing gedruk en ene Richard het albei drieë verdoel.

eersterustEersterust teen Transnetparke

♦ Billy Beukes, die hoofafrigter van Eersterust, sê goeie kommunikasie was die sleutel tot sy span se puik oorwinning.

“Alles het begin by die voorspelers wat goeie eerstefaseballe aan die agterlyn gegee het om mee te speel. Met dié balle wat op die voorvoet ontvang is, kon die agterlyn deur die gapings aanval. Sodoende is die besit gereeld in punte omskep.

“Marco Fortuin was onverbeterlik op die verdediging.”

Hy sê Duncan Tarentaal het die meeste punte aangeteken en saam met die losskakel, Kirwin Potgieter, seker gemaak die bal doen al die werk.

“Hulle was die hartslag van die aanval en die dag se spelskeppers.

“Die opkomende ster Romario George het met sy krag en vaart geskitter, en twee drieë gedruk.”

Winston McNab, die sekretaris van Eersterust, sê Tarentaal het 20 punte vir die wenspan aangeteken deur `n drie te druk, ses te verdoel en met `n strafdoel te slaag. Benewens George se twee drieë het Charle Moses en Potgieter elk `n drie en `n doelskop bygedra. Bandon Malo, Jody Ramon en Lionel van Rooyen het vir die ander drieë gesorg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

My tweesent bydrae ·

Dankie vir die klubnuus . Kan die bepalings ook dalk deurgegee word ? Ons bly in East Lynne en ondersteun Transnetparke .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.