Carltonglorie vir QBR; dure les vir SA rugby

Gert Wessels, die Blou Bulle se president, oorhandig die Carltonbeker aan die kaptein van QBR, Hendrik van der Nest. (Foto: GB Jordaan)

Saterdag se klubrugby op Loftus Versfeld in Pretoria het nie net Carltonglorie vir die nuwelingklub Quins-Bobbies-rugby ingehou nie, maar ook ʼn dure les vir bonde en klubs landwyd.

QBR het die Varsitybekerkampioen, die Tukkies, met 17-15 in ʼn moordende eindstryd op Loftus Versfeld geklop.

In wese het die span van Groenkloof die liga in sy eerste jaar as klub gewen, maar daardie jaar is gerugsteun deur ʼn gesamentlike ervaring en tradisie van sowat 200 jaar.

In weerwil van hul jare lange tradisie as twee van Pretoria se oudste en voorste klubs het Harlequins en Polisie die afgelope jaar of wat erg gesukkel om die uitdagings van beroepsrugby te bowe te kom.

Elkeen het sy eie trotse tradisie gehad, en dit moes ongelooflike moed van hul oortuiging gekos het, om daardie tradisies saam te snoer in die belang van toekomstige oorlewing.

Die vrugte daarvan is Saterdag op Loftus gepluk.

Hieruit is ʼn les te leer vir honderde sukkelende klubs in Suid-Afrika – van hulle is al in die 1800’s gestig: om oorlewing en hernieude krag in samesmelting te soek.

Die Tukkies gooi wal. (Foto: GB Jordaan)

QBR slaag op die koop toe uitmuntend daarin om die twee roemryke tradisies in die eiesoortige ontwerp van die klubtrui saam vorentoe te dra.

Die Blou Bulle se rugbybase het eweneens bygedra om die glorie van die Carltonreeks te laat herleef met ʼn werklike krag-teen-krag-reeks. Van die sewe spanne in die liga het ses vanjaar ewe veel wedstryde gewen.

Selfs die SA Rugbyraad (Saru) se internasionale Goue Bekerkampioen, Rustenburg Impala, kon nie die pas enduit volhou nie.

ʼn Mens moet nooit die vel verkoop voor die bok geskiet is nie, maar dit gaan ʼn meneer van ʼn span wees wat QBR vanjaar in die reeks stuit.

Die les wat uit dit alles te leer is, is dat die toekoms van gesonde klubrugby lê in minder, sterker klubs, wat in kompakte krag-teen-krag-ligas meeding.

Daar is egter ʼn voorwaarde: Dit verg mense met ondernemingsgees, durf en daadkrag wat rugby, en niks anders as rugby nie, eerste stel om só ʼn stap te waag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.