Carter loof Burger, die Bokke se man van staal

Schalk Burger. Argieffoto.

Een van die beste losskakels wat ooit die no. 10-trui in wêreldrugby gedra het, Nieu-Seeland se Dan Carter, het gesê dat Schalk Burger sy taaiste teenstander was.

“Kyk, Schalk was ’n taai kalant. Ek het gewonder of my All Blacks-trui dalk ’n teiken gehad het, want hy het net heeltyd vir my gekom,” het Carter op Newstalk ZB gesê.

Die 38-jarige het ook die voormalige Bok-yster se werketiek geloof.

“Hy sou byvoorbeeld in ’n hengse stryd met ons pak voorspelers gewikkel wees, maar hy het net nooit moed opgegee nie. Hy was ’n fisieke speler met ongelooflike krag.”

Burger het in 86 toetse vir die Springbokke gespeel, terwyl hy as deel van die Stormers se Superrugby-opset ook teen Carter se Crusaders kragte gemeet het.

In 2015 het hy ’n Laureus-toekenning ontvang, grotendeels vir sy amper bomenslike deursettingsvermoë en wilskrag.

Skaars ’n jaar of wat voordat hy dié internasionale toekenning in ontvangs geneem het, het hy vir sy lewe in die hospitaal geveg nadat hy met breinvliesontsteking gediagnoseer is.

Volgens Maroela Media se destydse beriggewing het Burger glo die infeksie opgedoen ná hy ’n  operasie moes ondergaan om druk op ’n senuwee te verlig wat die werking van sy kuitspier beïnvloed het.

“My vrou het my familie en vriende genader met die nuus dat ek dit dalk nie sou maak nie. Ek het vir vyf dae nie my oë oopgemaak nie en elke hartklop het soms gevoel asof iemand ’n mes teen my kop druk,” het Burger gesê.

Hy was uiteindelik ses weke lank in die hospitaal, terwyl die rehabilitasieproses ’n verdere agt weke geduur het.

Maar kort daarna het hy sy 100ste Superwedstryd vir die Stormers gespeel, terwyl hy ook ’n sleutelrol in die Bokke se Wêreldbekerveldtog van 2015 gespeel het.

Die kenmerkende blondekop wat vreesloos by ’n losgemaal induik, was terug.

“Schalk was dalk ’n yster op die veld, maar terselfdertyd ook ’n wonderlike ou wanneer jy hom elders raakloop,” het Carter met die perfekte opsomming vorendag gekom.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Manie

Die yster van alle ysters.

Anthony

Great speler gewees.