Carter, Sonny Bill nie teen Bokke

new_zealand_all_blacks[1]Die All Blacks laat drie van hul grootste uitblinkers Vrydag teen Argentinië tuis vir hulle toertjie na Suid-Afrika waar hulle Saterdag teen die Springbokke op Ellispark peel.

Die toets in Johannesburg is albei spanne se tweede toets in vanjaar se verkorte Rugbykampioenskap.

Die losskakel Dan Carter was invloedryk, klinies en bykans foutloos in sy eerste toets in 22 maande. Soos Sonny Bill Williams, wie se vaart na die buitegaping en sy onortodokse uitgee agter uit die hand die Argentyne laat kleitrap het, en die sterk vleuel Waisake Naholo wat in sy debuuttoets geskitter het, is Carter nie deel van die afrigter Steve Hansen se groep nie.

Williams se ruskans beteken dat die wêreld se beste senterpaar met die terugkeer van Conrad Smith herenig word. Ma’a Nonu is, met Smith langs hom, meer as net `n gewone handvol.

`n Mens kan werklik vir Naholo jammer voel. Hy was Vrydag uitstekend – soos hy ook deur die hele Superseisoen was. Sy eerste groot kans in die Swarttrui het hy deeglik aangegryp, maar in die wedstryd `n kraak in sy fibula opgedoen.

Hy sal nie Wêreldbeker toe kan gaan nie.

Hansen sê drie kriteria is toegepas by die kies van die oefengroep van 31.

“Ons het eerstens ervare spelers gekies wat alte bewus is van die uitdaging wat `n Springbok- tuiswedstryd inhou,” het hy gesê.

“Tweedens wil ons aan ander spelers die kans gee om te wys ohulle onder die uiterste druk sal vaar wanneer hulle teen Suid-Afrika speel. En derdens voel ons daar is spelers in die groep wat `n ruskans om verskeie redes nodig het en hulle bly dus tuis om uit te vars.”

Die spelers in die uitgebreide groep van Nieu-Seeland wat nie saam toer nie, sal individuele oefenprogramme gegee word en sal in  Augustus by die res van die groep aansluit. Hulle sal dan ook vir die twee Bledisloe-toetse teen Australië oorweeg word. Die eerste een, op 8 Augustus in Australië, is ook deel van die Rugbykampioenskap, die tweede `n week daarna is die verpligte vriendskaplike toets (asof daar ooit so iets kan wees onder die vaandel van Sanzar.

Die All Blacks se groep van 31 –

Hakers: Dane Coles, Keven Mealamu, Codie Taylor
Stutte: Wyatt Crockett, Ben Franks, Owen Franks, Nepo Laulala,Tony Woodcock
Slotte: James Broadhurst, Brodie Retallick, Luke Romano,Samuel Whitelock
Losvoorspelers: Jerome Kaino, Richie McCaw, Liam Messam, Kieran Read, Victor Vito
Skrumskakels: Andy Ellis, TJ Perenara, Aaron Smith
Losskakels: Beauden Barrett, Colin Slade, Lima Sopoaga
Senters: Ryan Crotty, Malakai Fekitoa, Ma’a Nonu, Conrad Smith
Buite-agterspelers: Israel Dagg, Charles Piutau, Julian Savea, Ben Smith

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.