Castle Lager Rugbykampioenskap: Wonde sal allig nie uitslae verander

Môre se wedstryde sal waarskynlik dieselfde wenners en verloorders in die Rugbykampioenskap as laas naweek oplewer, maar die telbord sal waarskynlik nie dieselfde lyk nie.

Daarvoor is lesse bloot te duur. Nuwe verwagtinge, afrigters se woede en ongeduld, beserings, deeglike ontledings van dieselfde opposisie se sterk- en swakpunte en nuwe stadions kan daarom die Poemas en Aussies goed te pas kom as hulle weer teen dieselfde opposisie te staan kom – hierdie keer in Nieu-Seeland en Argentinië.

Die All Blacks het die Wallabies met 47-29 in Sydney afgeransel en die Bokke het insgelyks die Poemas met 73-13 in Soweto vermorsel. Daar is dus oorgenoeg wonde om te lek, maar ’n week is ’n kort tyd om te bly lek. Daar is immers wraak om te neem ná sulke loesings.

Geen span of speler kan egter hierdie naweek op hul louere rus nie. Die Wallabybreier, Ewen McKenzie, het dit duidelik gemaak dat sy jong span sal moet vergoed vir verlede naweek se pak slae of anders kan sommige spelers hul toetsloopbane vaarwel roep. Heyneke Meyer het op dieselfde gesinspeel met verwysing na verlede jaar se gelykopstryd van 16-elk tussen die Bokke en die Poemas in die einste stadion waar hulle môre kragte meet.

Nadat hulle aanvanklik gestotter het in die eerste kwartier van die wedstryd en doellose handelinge gepleeg het, het die Bokke algaande die gebiedsvoordeel bekom om drie drieë in die eerste helfte te druk en ses in die tweede helfte. Ons moet egter nie vergeet dat die Poemas ver benede peil in hierdie wedstryd was nie. Hulle het hul kaptein, Juan Martín Fernández Lobbe, asook Juan Martín Hernández en Patricio Albacete almal voor of tydens die wedstryd verloor.

 Die deurlopende statistiek lieg egter egter nie. Suid-Afrikaners het hierdie jaar in vier toetse reeds 22 keer die witlyn oorgesteek, drie keer minder as die 25 drieë wat hulle gedruk het in die 12 toetse waarin hulle verlede jaar gespeel het. Die Bokke se drieërekord kan dus aan meer as bloot die Argentyne se tekortkominge in ’n enkele wedstryd toegeskryf word.

Hierdie merkwaardige prestasies sou egter nie moontlik gewees het as dit nie vir hul uitsonderlike verdediging en kliniese voorspelerspel was nie. Die drieë het Saterdag juis begin opstapel toe die Bok-voorspelers soos Eben Etzebeth, Duane Vermeulen en Willem Alberts met hul kraglopies oor die voordeellyn gekom het. Heelparty van die drieë is ook deur voorspelers gedruk en die dryfmaalbeweging het in talle ’n onmisbare rol gespeel. Hierdie bewegings se platform is dan ook in die lynstane geskep. Die Bokke het per slot van rekening 15 uit 15 lynstane gewen en die Poemas boonop tot huiskatte gereduseer in die skrums. Daar is dus geen rede om eers te begin bespiegel oor of hierdie aspek gaan verander nie, want dit gaan nie. Veral nie teen ’n span met ewe fisieke spel soos die Poemas wat hul trots wil terugwen voor ’n fanatiese tuisskare nie.

Dit is waarskynlik ook hoekom Meyer nie aan sy beginspan getorring het nie. Fourie du Preez, wat die vonk vir die Bokke se aanvalle in die tweede helfte van Saterdag se toets verskaf en self ’n drie gedruk het, gaan nie speel nie weens sy klubverpligtinge en die ewe behendige Jano Vermaak vervang hom. Vermaak se onvoorspelbaarheid op die aanval maak hom ’n reuse-aanwins en daarom ’n sinvolle plaasvervanger vir die immergroen Du Preez. Vermaak se diens agter die skrum is egter soms traag en as die Poemas se verdedigers dit kan uitbuit, kan die Bokke op die agtervoet gedwing word.

Die Poemas het vyf nuwe spelers in hul beginspan, waarvan drie weens beserings ingesluit is en drie voorspelers is. Dit dui aan dat hulle iets anders gaan probeer nadat die Bokvoorspelers hulle totaal oorrompel het in die eerste toets. Die Argentyne se dissipline was boonop swak en hulle moes weens geelkaarte vir ’n kwart van Saterdag se wedstryd met 14 spelers klaarkom en het selfs ’n strafdrie afgestaan. Die Bokke kon daarbenewens ’n vroeë voorsprong kry deur middel van strafdoele en Morné Steyn het die Poemas deurentyd met sy akkurate skopskoen gekasty. Dit is dus ’n aspek waaroor daar menigte Latynse vloekwoorde en dreigemente vandeesweek sou wees en ’n verbetering is onteenseglik te wagte.

Hierdie Bokbeginspan, wat 500 toetse – 307 in die agterlyn en 193 onder die voorspelers – op hul kerfstok het, is egter ’n perd van ’n ander kleur en sal betreklik maklik in Mendoza seëvier. Uit die 16 wedstryde waarin hierdie twee spanne mekaar ontmoet het sedert 1993, is 15 deur die Bokke gewen en laas jaar se stryd in Mendoza was gelykop. Die geskiedenis én momentum is dus aan die Bokke se kant. Bismarck du Plessis sal byvoorbeeld die 24ste Bok word met 50 wedstryde op sy kerfstok wanneer hy in die tweede helfte as ’n plaasvervanger opgestuur word.

WALLABIES TEEN ALL BLACKS

In die ander Rugbykampioenskapkragmeting van die naweek tussen die Wallabies en die All Blacks is daar ook min veranderinge gemaak. Die 24-jarige Tom Taylor, wat gewoonlik op binnesenter of heelagter vir die Crusaders  speel, gaan die All Blacks se losskakelleisels oorneem omdat Aaron Cruden weens ’n besering nie beskikbaar is nie. Cruden was instrumenteel in die All Blacks se loesing en sy afwesigheid sal beslis ’n reuseleemte laat. Colin Slade is as die ander losskakel in die groep ingesluit nadat Dan Carter en Beauden Barrett ook weens beserings nie oorweeg kon word nie.

Die Nieu-Seelanders se afrigter, Steve Hansen, het geen geheim daarvan gemaak nie dat Taylor se betroubare skopvoet na die kantlyn sowel as die pale sy insluiting moontlik gemaak het. Goeie taktiese skoppe was juis een van die hoofelemente in die All Blacks se eerste 2013 Rugbykampioenskapsege. Hulle het eksponensieel meer meters as die Aussies se Jesse Mogg en Matt Toomua gewen en derhalwe die gebiedsvoordeel bekom wat hul ses drieë moontlik gemaak het. Cruden het daarbenewens 15 punte met die stewel aangeteken en Barrett twee. Met die Aussies gekwes en op hul hoede wat lakwerk betref, gaan strafdoele en doelskoppe belangrik wees in ’n stryd wat straks meer gelykop gaan wees as laas week s’n. Daarom is Taylor, wat hierdie seisoen 14 uit sy 15 strafdoele vir die Crusaders deur die pale gejaag het, ’n vanselsprekende keuse.

Daarbenewens sal Brodie Retallick ook vir die All Blacks op slot diens doen nadat Luke Romano beseer is in die stryd teen die Wallabies en waarskynlik nie vir die res van die Rugbykampioenskap kan speel nie. Die stut Tony Woodcock speel in sy 100ste wedstryd vir die All Blacks.

McKenzie het sy jong span onveranderd gehou vir hierdie kragmeting en wil hulle klaarblyklik deur hulle foute laat speen. Volgens hom is jeug en ’n gebrek aan ervaring egter nie voldoende verskonings nie en hy het gesê hoewel hy dink hy het die regte spelers in hul onderskeie posisies, moet hulle speel om te wen anders is hul toetsloopbane verby. Die Aussies kan darem hoop put uit die feit dat hulle ’n stewige 29 punte teen die All Blacks aangeteken het. Slegs een van hul twee drieë is egter danksy die bou van fases bewerkstellig. Die kuns sal wees om beter gebiedsvoordeel deur taktiese skoppe te bekom en dan ook die All Blacks se feitlik ondeurdringbare verdediging te deurpriem.

Wedstrydtye:

Australië vs Nieu-Seeland (Wellington, afskoptyd: 09:35)

Suid-Afrika vs Argentinië (Mendoza, afskoptyd: 21:10)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.