CB-eindstryd: tuisveld is geen waarborg nie

Tuisveldvoordeel, dit waarna elke span mik as dit lyk of hy in die Curriebekereindstryd kan speel, is geen waarborg vir sukses nie.

Dít moet die Sharks maar weet wanneer hulle Saterdagmiddag (afskop 16:00) op Kingspark in Durban teen die Westelike Provinsie opdraf om hulle agste Curriebekertitel te probeer wen.

Vier keer het die Sharks al tuis in ʼn eindstryd teen die WP gespeel, en twee keer het hulle bedroë daarvan afgekom.

In die twee spanne se laaste twee kragmetings in die eindronde, het die span wat tuis gespeel het, pak gekry. In 2013 het die WP met 19-33 op Nuweland verloor, en die vorige jaar was dit die Sharks wat op Kingspark 18-25 verloor het.

Maar dit was tóé, Saterdag is nóú.

Om te voorspel wat gaan gebeur, word natuurlik ook deur ander faktore benewens tuisveldvoordeel beheer. Die weer, so lyk dit, sal egter nie lol nie.

Wat die wedstryd veral interessant maak, is die verskillende speelpatrone van die twee spanne. Die KwaZulu-Natallers speel ʼn meer direkte rugby; hulle dryf en maal om die afbreekpunte met die Du Preez-tweeling, Thomas du Toit en Ruan Botha die vernaamste manne wat die bresse probeer slaan.

Die WP is, amper tradisioneel, steeds ʼn span wat weg van die vaste fasette af op hulle gemaklikste is.

Maar die Sharks kan ook hardloop. Lukhanyo Am is een van die voorste senters in die land en kan Sondag Springbok word; langs hom is Marius Louw self ʼn moeilike yster, maar steeds met die klem op direkte rugby; die losskakel Curwin Bosch is in eie reg ʼn wedstrydwenner; Kobus van Wyk is een van die sterkste vleuels in die land; en agter die skrum het hulle Louis Schreuder, jare lank al heeltemal onderskat, en die ervare Michael Claassens as skrumskakel om rigting te gee.

Die WP het in Robert du Preez ʼn losskakel wie se naam Sondag saam met sy tweelingbroers s’n in die Bokspan uitgelees kan word. Langs hom het hy die Skotse senter Huw Jones en die Blitsbok Ruhan Nel.

Aan hulle buitekant is daar die blitse Seabelo Senatla en Dillyn Leyds met die jong, opwindende Damian Willemse wat die agterste driehoek voltooi.

Met hierdie agterlyn is volop hardloopwerk ʼn logiese afleiding.

Maar gaan hulle genoeg besit kry? En sal hulle die stormtaktiek van die Sharks suksesvol kan teenstaan?

Bosch teen Du Preez, Du Toit op loskop teen die nuwe vaskop-Bok Wilco Louw, vier uitstekende senters teen mekaar …

Dis ʼn eindstryd. Besluit maar self wie gaan wen.

Spanne –

Sharks
15 Garth April, 14 Kobus van Wyk, 13 Lukhanyo Am, 12 Marius Louw, 11 Odwa Ndungane, 10 Curwin Bosch, 9 Louis Schreuder, 8 Daniel du Preez, 7 Jean-Luc du Preez, 6 Keegan Daniel, 5 Ruan Botha (kaptein), 4 Tyler Paul, 3 Ross Geldenhuys, 2 Franco Marais, 1 Thomas du Toit. Bank: 16 Armand van der Merwe, 17 Juan Schoeman, 18 John-Hubert Meyer, 19 Jean Droste, 20 Jacques Vermeulen, 21 Michael Claassens, 22 Tristan Blewett, 23 Rhyno Smith.
Westelike Provinsie
15 Damian Willemse, 14 Seabelo Senatla, 13 Ruhan Nel, 12 Huw Jones, 11 Dillyn Leyds, 10 Robert du Preez, 9 Dewaldt Duvenage, 8 Nizaam Carr, 7 Cobus Wiese, 6 Sikhumbuzo Notshe, 5 John Schickerling, 4 Chris van Zyl (kaptein), 3 Wilco Louw, 2 Bongi Mbonambi, 1 JC Janse van Rensburg. Bank: 16 Ramone Samuels, 17 Alistair Vermaak, 18 Frans van Wyk, 19 Jan de Klerk, 20 Kobus van Dyk, 21 Jano Vermaak, 22 Werner Kok, 23 Dan Kriel.

Skeidsregter: Jaco Peyper
Assistent-skeidsregters: Egon Seconds, AJ Jacobs
Televisieskeidsregter: Marius Jonker

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.