CB-eindstryd: WP skok Sharks weer soos in 2012

WP vier fees na die eindfluitjie (Foto Twitter @WP_RUGBY)

Die Westelike Provinsie se pak voorspelers, al agt van hulle, moet die eer kry vir Saterdag se verrassende sege teen die Sharks in die Curriebekereindstryd in Durban.

En toe die opdraf-agttal sporadies vervang word, het die nuwe manne ook die kitaar geslaan om die WP van 10-21 te laat terugveg en met 33-21 te wen.

In ʼn wedstryd wat wel sy kwota hoogtepunte opgelewer het maar allermins as die gemiddelde rugbyondersteuner se gevraagde hardloop-skouspel beskou kan word, het die WP hulle tweede opeenvolgende wegoorwinning in ʼn Curriebekereindstryd teen die Sharks behaal. Hulle het dit ook in 2012 in Durban reggekry.

Swak dissipline deur die Sharks, wat soos die afgelope weke weer swaar gestraf is,  maar veral die wyse waarop die WP die wedstryd beheer het toe hulle in die tweede helfte die oorhand gekry het, het aan die besoekers die oorwinning van 33-21 besorg.

Dit was die WP tweede opeenvolgende sege in Durban nadat hulle ook in die laaste ligawedstryd twee weke gelede die Durbaniete geskok het.

Die tuisspan het net twee wedstryde die seisoen verloor: die heel eerste teen die Vrystaat Cheetahs en toe die onlangs een teen die WP.

Die Sharks het in die ligafase met persentasie-rugby, gebou op goeie besit en oorheersing by die afbreekpunte en die skrums, die een teenstander na die ander laat strompel en weke voor die einde van die ligafase reeds verseker hulle sal al hul uitspeelwedstryde tuis kan speel.

Die WP se afrigter, John Dobson, het egter laat blyk dat hulle hierdie stormram-spel van die Sharks wou vasvat. Dit is Saterdag gedoen, selfs voor die besering van Jean-Luc du Preez.

Dobson-hulle het duidelik ook die skrums geteiken. Hier was daar net een span, en die WP se voorry van JC Janse van Rensburg, Bongi Mbonambi en Wilco Louw het amok gesaai en moontlik die grootste bres in die Sharks se gewaande onoorwinlikheid geslaan.

Die WP was met die rustydtoeter nog 10-21 agter, maar toe het Dillyn Leyds ʼn skitterende agterlyndrie gaan druk waar eers Damian Willemse met ʼn oorhoofse aangee en toe Huw Jones met goeie visie wyd gespeel het.

Toe hulle na rustyd terugkeer, was die besef klaarblyklik reeds by die Streeptruie gevestig: ons kan dié ene wen.

Die twee drieë elk met rustyd het na vier vir die WP verander, en die Kapenaars het na rustyd 18 onbeantwoorde punte aangeteken.

Die Streeptruie het net minder as 70 persent besit geniet, beter gekeer en net sewe duikslae gemis teenoor die Sharks se 17, en hulle het 71 losskrums en -gemale teen 38 gewen.

Die swak skopwerk pale toe van Curwin Bosch het stellig ʼn groter sielkkundige rol by die Sharks gespeel as die verbroude kanse van Robert du Preez, maar oor wie die beste span was, kan nie eintlik geredekawel word nie.

Met die baie besit kon ʼn skitterende Robert du Preez baljaar en kon hy self die losmanne van die Sharks intrek en besig hou om meer ruimte aan sy binne-agterspelers te gee.

Die Sharks had geen bal om mee te speel nie, en dít wat hulle gekry het, was op die agtervoet.

En so is die wedstryd gewen!

Puntemakers –

Sharks (21) 21: Drieë: Odwa Ndungane, Dan du Preez. Doelskop: Curwin Bosch. Strafdoele: Bosch 2. Skepdoel: Bosch
Westelike Provinsie (15) 33: Drieë: Huw Jones 2, Dillyn Leyds, Cobus Wiese. Doelskoppe: Robert du Preez 2. Strafdoele: Du Preez 3.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.