CB-kleinboet kan ouboet in die skadu stel

ʼn Wesenlike gevaar bestaan dat die Curriebeker- Eerste Liga Saterdag groter belangstelling kan uitlok as wat dít wat veronderstel is om die ware Jakob te wees.

In teenstelling met die bra valerige dis wat in die Curriebekerreeks wag kan die vonke in van die Eerste Liga-kragmetings spat.

Dit is veral die geval waar die verdedigende kampioen en huidige voorloper, die Griffons, Saterdag in Welkom teen die Suidwestelike Distrikte kragte meet.

Die besoekers is derde op die punteleer en net twee ligapunte agter die tuisspan genoeg aansporing om alles uit te haal.

Die spanne behoort goed teen mekaar op te weeg, met die tuisspan die gunsteling as hy al sy kanse benut.

Nog ʼn wedstryd wat fyn dopgehou sal word, is die een Saterdag in Windhoek tussen die Welwitschias en die Valke.

Die Biltongboere het die reeks belowend begin en het die aansporing voor hul tuisskare dat hulle die besoekers verlede jaar slae gegee het.

Die tuisspan is egter sonder ʼn klompie sleutelspelers – wat vir Western Suburbs in die reeks om die Goue Beker speel – en die Valke sal dit gewis probeer uitbuit.

Die Luiperds behoort op Potchefstroom met die Oostelike Provinsie af te reken: nog ʼn rede waarom die Griffons nie kan bekostig om te gly nie.

Boland is ook die gunsteling om die Grens Saterdag in Oos-Londen te klop.

Afskoptye –

Vrydag

16:00 Luiperds teen OP, Olënpark, Potchefstroom.

Saterdag

15:30 Griffons teen SWD, Welkom.

16:00 Welwitschias teen Valke, Windhoek.

17:00 Grens teen Boland.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.