Cheeky maak bokspronge

Cheeky Watson, President van die OP Rugby. (Foto: myPE.co.za_

Cheeky Watson, President van die OP Rugby. (Foto: myPE.co.za_

Cheeky Watson was in sy speeldae en later in sy loopbaan baie omstrede vanweë sy politieke uitsprake en oortuigings. Nou is die grootbaas van die Oostelike Provinsie Rugbyunie opnuut in die spervuur en doen hy bokspringe oor die finansiële gemors waarin die unie hom bevind.

Die OP Kings se spelers is die afgelope maand (dalk is dit maande al?) nie betaal nie. Watson het die afgelope paar weke allerhande verskonings gemaak, ook gepraat van beloftes van die “grootste borgskap ooit in Suid-Afrikaanse rugby”.

Dit sou sowat twee weke gelede aangekondig word en dan sou die spelers glo dubbele salarisse ontvang het.

Maar dit het nie gebeur nie en daar was sprake (hoewel die OP dit ontken het) dat die spelers wou staak.

Kon ons wees eerlik, niemand kan op `n honger maag rugby speel nie, om dit so uit te druk.

Dit klink al te veel “die tjek is in die pos” of “die skip is in die hawe”.  Dalk word ek  verkeerd bewys en dalk is daar `n groot borg – dis glo `n oorsese maatskappy – wat na vore sal tree om die OP uit sy verknorsing te red. Maar as daar nie meer geld in die bank is om jou grootste bates, die spelers, te betaal nie, watter borg sal miljoene in die unie wil belê ?

Wat meer olie op die vuur gooi, is `n verdoemende  artikel oor die gewese All Black  Carlos Spencer wat Woensdag in die New Zealand Herald verskyn het.

Spencer, wat die afgelope paar jaar in Suid-Afrika by die Lions en Kings gespeel en afgerig het, wil permanent na Nieu-Seeland terugkeer en hy is glo in die visier om Tana Umaga as vaardigheids-afrigter by die Blues by te staan.

Spencer beweer die OP Kings skuld  hom `n hele paar maande se salaris en hy het versoek om van sy Kingskontrak onthef te word. Die Kings het sy versoek toegestaan en Watson het hom in `n verklaring sterkte toegewens en bedank vir sy bydrae.

Spencer, wat eers (onsuksesvol) die Kings se hoofrigter was, is deur Brent Janse van Rensburg vevang en Spencer het die afgelope ruk as vaardigheidsafrigter opgetree. Hy beweer die probleme het reeds verlede jaar voor Kersfees ontstaan en hy het `n Suid-Afrikaanse regspan aangestel om sy saak hier te beredder.

“Daar kom `n tyd wanneer jy genoeg gehad het,” het David Jones, `n prokureur van Auckland wat namens Spencer optree, gesê .

“Hulle skuld hom `n aansienlike bedrag en hy het hulle gereeld gejaag vir die agterstallige  bedrae. Cheeky (Watson) het verlede Woensdag beloof dat die spelers betaal wou word, maar hulle is nie. Daar is `n reeks beloftes wat verbreek is.” het Jones gesê .

As die borgskap nie bestaan nie, sit die SA Rugbyunie in tamatiestraat. Wie gaan die spelers betaal en met watter spelers gaan die Kings in volgende jaar se Superreeks speel?

Toe die Kings drie jaar seisoene gelede baie omstrede in die Lions se plek tot die Super-reeks toegelaat is, het hulle heel skaflik gevaar, met Alan Solomons as hoofafrigter en `n rits aanwinste.

Nou rig Solomons in Edinburg in Skotland af en die meeste van sy aanwinste het groener weivelde gaan soek.

Die uurglas het reeds begin leegloop.

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Manie ·

Ja Watson ++ Jou streke het jou ingehaal.
Ek hoop net jy het ook nie geld gekry nie

Len van Heerden ·

nou waar dink jy is die geld heen , lyk my die nuwe borg gaan die” lottery” wees

Marius ·

Miskien moet hy die ANC vra vir “Borge” hy het mos baie pêlle daar!!!

neelsie ·

Elke hond kry sy dag………Watson ,jy sal n naweek kry!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.