Cheetah-vlae wapper in Goudstad

’n Trotse Cheetah-oomblik. Die Vrystaters het meer as 50 punte teen die Leeus op Ellispark aangeteken. (Foto: Twitter/Toyota Cheetahs)

Die Cheetahs het vandag behoorlik munt uit die Leeus se swak dissipline geslaan om die Johannesburgers met 52 – 15 op Ellispark te troef.

Die tuisspan moes vir die grootste gedeelte van die wedstryd met 14 spelers klaarkom nadat Raynard Roets vir Oupa Mohoje met sy skouer gestormloop het.

Tapiwa Mafura het ongetwyfeld sy dansskoene ingepak want hy het ʼn paar keer vanuit die laaste vesting verby die Leeus-verdedigers gewals.

Die Cheetahs se heelagter, wat in Zimbabwe gebore is, het ʼn driekuns van drieë behaal om die wind heeltemal uit die tuisspan se seile te haal.

Dan het Jeandré Rudolph met sy klipharde inklimspel beïndruk, terwyl Ruan Pienaar gewys het dat hy steeds ʼn meester agter die skrum en skopkelkie is.

Selfs al het hy verlede maand sy 39ste verjaardag gevier.

Die spogsege beteken dat die Cheetahs nou saam met die Pumas 20 punte op die amptelike punteleer het, maar die span van Mpumalanga se punteverskil lyk beter.

Die Leeus is vyfde op die punteleer, maar die span blaas steeds in die Haaie en Westelike Provinsie se nekke.

  • Puntemakers:

Cheetahs: Drieë: Tapiwa Mafura (3), Jeandré Rudolph (2), Marko Janse van Rensburg, Daniel Maartens en Louis van der Westhuizen. Doelskoppe: Ruan Pienaar (5) en Reinhardt Fortuin.

Leeus: Drieë: Darrien-Lane Landsberg en Michael van Vuuren. Doelskop: Vaughen Isaacs. Strafskop: Isaacs.

  • Curriebeker-punteleer:
  1. Pumas: 20 punte
  2. Cheetahs: 20 punte
  3. Westelike Provinsie: 15 punte
  4. Haaie: 14 punte
  5. Leeus: 13 punte
  6. Griekwas: 10 punte
  7. Blou Bulle: 8 punte
  8. Griffons: 6 punte.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Niklaas ·

Dit was mos die Leeus se 2 de span. Die sterker hoofspan het uitgedraf teen Glasgow Warriors. Dit als is nie erg regverdig nie. Kyk ook na die uitslae van die WP ,Bulle en die Haaie se reserwe spanne. Dat hul nog die Pumas , Griffons en Griekwas kan kafdraf , is merkwaardig.

Frans ·

Dit is ongelukkig so dat die Cuttiebeker ‘n toets geword het vir die reserwekrag van die 4 bonde wat spanne in ander kompetisies het,Dit verlaag mi die aansien van die Curriebeker en kan die kompetisie nie vergelyk word met dit voor beroepstugby

SjN ·

Die Cheetas se vlae gaan weer halfmas hang aan die einde van die kompetisie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.