Cheetahs breek ook deur met eerste oorwinning

Die ys is eindelik vir die Cheetahs ook gebreek ná hulle die Cardiff Blues Saterdagaand in Bloemfontein in die eerste van hul drie wedstryde binne agt dae geklop het.

Cardiff het die wedstryd stadig begin, die Cheetahs was flink uit die blokke, en die slag is geslaan met twee drieë en ʼn voorsprong van 14 punte ná net tien minute en ʼn derde doel net voor rustyd teenoor die enkele strafdoel van die Blues wat die rustydtelling 21-3 gemaak het.

Die vroeë sprankel van die Vrystaters het ná rustyd plek gemaak vir meer konvensionele rugby, maar dit was genoeg om die Blues tot ʼn kwartier voor die einde van hul doellyn weg te hou.

Toe het druk en ʼn afstorm van hul losskakel Tian Schoeman se skop tot ʼn Cardiff-doel gelei en het die besoekers besef alles is op 10-21 nog nie vir hulle verlore nie. Hulle het met meer durf hul beste rugby van die aand gespeel, maar die Cheetahs het die aanvalle en druk laat in die wedstryd goed verwerk en is met ʼn verdiende oorwinning van die veld af.

Die Cheetahs was eintlik in elke faset van die spel die beste daaraan toe, hoewel die 12 strafskoppe wat hulle afgestaan het, ʼn probleem kan word as dit nie uitgeskakel word nie.

Hulle het verder gehardloop en die bal meer as die Blues gedra, is tot minder duikslae as die teenstanders gedwing en het hulle hiermee ook as die beste bewys.

Die Cheetahs het nou vyf van hul sewe wedstryde in die Pro14-reeks verloor, hierdie een gewen en ook al gelykop gespeel.

Nege ligapunte ná sewe wedstryde hou die Cheetahs egter onderaan afdeling A se punteleer, en die wedstryd Sondag teen Munster, selfs sonder hul toetsspelers, sal ook geen piekniek wees nie.

♦ Die Kings, wat ook nege punte ná sewe wedstryde het, is in afdeling B ook laaste en die twee Suid-Afrikaanse spanne se negatiewe punteverskil is verreweg die grootste in die reeks; die Kings s’n minus 102 en die Cheetahs s’n minus 106.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Kiewiet ·

Net jammer die Cheethas moet elke jaar met in nuwe span begin. Wys maar weereens die rugby fabriek is in Bloemfontein.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.