Cheetahs: Druk nou nóg groter vir Pro14-uitspeelplek

En wat nou, Cheetahs?

Ja, die span van Swys Venter het nou ná agt probeerslae steeds net een oorwinning oorsee in die Pro14-reeks behaal nadat die derde vrotste span in die liga (die Southern Kings uitgesluit) hulle Saterdagaand geklop het.

Die Ospreys het met die baie  laat drie se doelskop, ná die toer al geblaas het, die wedstryd in Swansea met 27-26 gewen.

En o ja, ʼn mens moet hulle seker ook noem: Die Southern Kings het Vrydagaand met 7-64 teen Leinster verloor nadat hulle rustyd met 7-40 agter was. Tien drieë teen een … en dit sal interessant wees om te verneem wat hulle lot aanstaande jaar sal wees.

Die Kings het onteenseglik bygedra tot die besef dat Suid-Afrika nie die diepte vir ses spanne het om teen die wêreld se beste franchise-spanne mee te ding nie.

♦  Om tot die Cheetahs terug te keer: Net die Italiaanse spanne Zebré (21 punte) en die Newport Dragons (17) is onder die Ospreys op die saamgestelde punteleer van die 14 spanne – en natuurlik die Kings, wie se deelname ʼn yslike verleentheid vir Suid-Afrikaanse rugby is.

Die Cheetahs is nou net 10 punte bo die Cardiff Blues op die punteleer. Die Blues speel Sondagmiddag weg teen Zebré en behoort maklik en ook met ʼn bonuspunt te wen.

Dit sal die gaping op die punteleer tussen hulle en die Cheetahs na net vyf punte vernou.

♦ Daarná het albei spanne nog vyf ligawedstryde oor voor die uitspeelrondes laat in April.

Die Cheetahs speel aanstaande naweek tuis teen Connacht, nege ligapunte agter die Cheetahs en ʼn span wat self nog ʼn vae aanspraak het om derde in afdeling A van die reeks te eindig.

Dan, op 23 Maart ná drie weke se ruskans, is dit weer oorsee – dié keer teen die Dragons in Newport. Dié span het nog net twee van sy 16 wedstryde gewen en is naas die Kings laaste op die punteleer.

Dan is dit weer twee weke aflê vir die Cheetahs.

Op 6 April volg die wedstryd wat hulle uitspeel-lot kan bepaal, ook in Bloemfontein, teen die Cardiff Blues. En dit word nie makliker nie, want op13 April kom Munster kuier.

Dan is daar (wéér) twee weke tussen wedstryde voordat die Cheetahs vir hulle laaste wedstryd Baai toe reis om die Kings vir oulaas te pak.

En die Cardiff Blues?

Ná Sondagaand speel hulle nog tuis teen die middelmatige Benetton van Treviso, tuis teen Ulster wat vierde in afdeling B is en self nog uitspeelaspirasies het, weg teen die Cheetahs, in die Baai teen die Kings en dan tuis teen die Ospreys.

♦  Die vraag is egter of, gesien hulle rekord oorsee, die Cheetahs in die uitspeelrondes enige kans sal staan. Dit sal gewis oorsee wees.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Herman Goosen ·

Talent is daar hope van, maar professionaliteit en konstante wiseelvalligheid bly net aanhoedend knaag. Ek dink die wenkultuur skop net nie in by die Cheetahs nie en hul grootste struikelblok is hulself.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.