Cheetahs en Kings begin Pro14-aanslag oorsee

Die Cheetahs en die Southern Kings spring op 1 September in hul tweede Pro14-reeks albei oorsee weg in die liga waar alle spanne in dieselfde twee groepe as verlede seisoen ingedeel is.

Vanjaar, wanneer oorkruiswedstryde tussen die twee afdelings gespeel word, sal die tuisveldvoordeel omgekeer wees van wat dit verlede jaar was in die uitgerekte reeks oor meer as agt maande.

Albei die Suid-Afrikaanse spanne sal vier opeenvolgende wedstryde ná hul Kersfees-ruskans oorsee speel ‒ dus byna vier weke van die huis.

Dit is die gevolg van die spesiale vergunning vir die Cheetahs en die Kings wat op 1 Desember hul laaste wedstryd van die jaar speel en eers weer op 6 Januarie in aksie sal wees. Die ander spanne speel in daardie tyd voort in die kompetisie sodat die Suid-Afrikaanse spanne dan die agterstand moet inhaal.

Die sewe spanne in elke afdeling speel elkeen twee keer teen mekaar (dus 12 wedstryde) en ook een keer teen die sewe spanne in die ander afdeling.

Die indeling is ook so dat spanne van dieselfde land gelykop tussen die twee afdelings verdeel is. Op dié manier word die derbies tussen spanne van dieselfde land behou.

Só sal die Cheetahs en Kings, benewens hul oorkuiswedstryd uit die twee afdelings, ook nóg twee keer in die reeks teen mekaar speel. Albei die spanne speel tien van hul 21 wedstryde oorsee.

Die vele naweke waar die Cheetahs en die Kings nie speel nie, is om voorsiening te maak vir die Britse en Europese Pro14-spanne om in ander kompetisies te speel. Die meeste van hulle is betrokke by een of meer van die volgende reekse, soos dieWalliese Premierreeks, die Skotse Premierreeks, Italië se interne kampioenskap, dié in Ierland en dan die twee grotes, die Europese Kampioenebekerreeks en die reeks om die Europese Uitdaagbeker.

♦ Munster van Ierland en Zebré van Italië wag onderskeidelik tuis in die eerste ronde op die Cheetahs en die Kings, gevolg deur die Cheetahs wat dan na Wallis reis om teen die Ospreys te speel.

Die eerste kans wat hul ondersteuners het om die Cheetahs en Kings in aksie te sien is op 15 September, wanneer die Cheetahs die eerste van vier tuiswedstryde speel, Die Cheetahs speel dan teen Glasgow in Bloemfontein en die Kings op Sondag 16 September teen Ulster.

Laasgenoemde sal net ses dae ruskans hê voordat hulle die volgende Vrydagaand teen die Cheetahs speel. Die Kings kom dan teen Glasgow te staan voordat albei die Suid-Afrikaanse spanne dan die vierde en laaste keer weer oorsee moet gaan speel.

♦ Die Kings speel 11 wedstryde weg (twee daarvan in Bloemfontein teen die Cheetahs en nege wedstryde oorsee) en tien keer tuis (een wedstryd is teen die Cheetahs).

Die Cheetahs, aan die ander kant, het net 10 wedstryde weg waarvan nege ook oorsee is en een teen die Kings in Port Elizabeth is. Hul 11 tuiswedstryde sluit twee teen die Kings in.

♦ Die reeks van 152 wedstryde sluit op 25 Mei aanstaande jaar met die eindstryd af nadat die laaste ligawedstryde op 28 April gespeel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Frans C ·

En saru is steeds tevrede dat die Kings ‘n slaansak in die kompetisie bly?

Pietman ·

Dink nie SARU het baie hoë standaarde of verwagtinge nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.