Cheetahs en Kings moet nou ook oorsee hul slag wys

Net soos ʼn mens hoop die Springbokke se oorwinning teen die All Blacks was ʼn keerpunt, só word daar uitgesien dat die Cheetahs en die Southern Kings die naweek sal voortbou op verlede naweek se twee verrassend goeie vertonings.

Die Cheetahs speel Vrydagaand teen die Cardiff Blues in Cardiff, en die Kings takel Saterdagaand, ook in Wallis, die Scarlets van Llanelli.

Cardiff Blues vs Cheetahs, Cardiff Arms-park, Vrydag 20:35 (SA tyd)

Soos die Cheetahs wat, ná drie neerlae, verlede naweek die verloorspook met ʼn baie goeie gelykop-uitslag teen die sterk Ulster afgeskud het, het die Blues die afgelope naweek, óók na drie verloorslae, een van die heel voorste spanne in die reeks, Munster, met 37-13 afgestof.

Die Cheetahs weet nou hulle kán; hulle weet ook hulle het verlede jaar net-net (met 25-20) in Cardiff verloor en in Bloemfontein naelskraap met 29-27 teen die Blues gewen.

Die uitdagings, al is dit ʼn nuwe seisoen, kan dus oorwin word. Hulle het nou in hul laaste twee wedstryde gewys watse soort rugby hulle wil speel, en moet dit Vrydagaand net eenvoudig met dieselfde selfvertroue doen.

Daar is egter die wete dat die Cheetahs verlede seisoen, ondanks hulle prestasie om die uitspeelrondes te haal, net twee oorsese wedstryde kon wen ‒ en dat die Blues sedert Februarie in alle kompetisies net een wedstryd tuis, teen die reeks se naaswenner Leinster, verloor het.

Spanne ‒

Cardiff Blues
15 Matthew Morgan, 14 Owen Lane, 13 Rey Lee-Lo, 12 Willis Halaholo, 11 Jason Harries, 10 Gareth Anscombe, 9 Tomos Williams, 8 Josh Turnbull, 7 Ellis Jenkins (kaptein), 6 Olly Robinson, 5 Rory Thornton, 4 George Earle, 3 Scott Andrews, 2 Kristian Dacey, 1 Rhys Gill. Bank: 16 Kirby Myhill, 17 Brad Thyer, 18 Dillon Lewis, 19 Macauley Cook, 20 Sion Bennett, 21 Lloyd Williams, 22 Steven Shingler, 23 Garyn Smith.

Cheetahs
15 Ryno Eksteen, 14 William Small-Smith, 13 Benhard Janse van Rensburg, 12 Nico Lee, 11 Sibhale Maxwane, 10 Tian Schoeman, 9 Tian Meyer (kaptein), 8 Niell Jordaan, 7 Junior Pokomela, 6 Gerhard Olivier, 5 Jean-Pierre Du Preez, 4 Walt Steenkamp, 3 Johannes Coetzee, 2 Joseph Dweba, 1 Ox Nche. Bank: 16 Jacques Du Toit, 17 Charles Marais, 18 Günther Janse van Vuuren, 19 Justin Basson, 20 Stephan Malan, 21 Daniel Maartens, 22 Shaun Venter, 23 Louis Fouché.

Skeidsregter: George Clancy (Ierland)
Assistent-skeidsregters: Joy Neville (Ierland), Gwyn Morris (Wallis)
TV-skeidsregter: Jon Mason (Wallis)

Scarlets vs Southern Kings, Parcy Scarlets-stadion, Saterdag 19:30 (SA tyd)

Die Scarlets het in September 2016 laas op hulle tuisveld verloor, verlede jaar die eindstryd gehaal en toe met 32-40 teen die Pro14-kampioen, Leinster, verloor.

Die Kings, daarenteen, was laaste in die reeks, het net een wedstryd tuis gewen en is oorsee steeds sonder ʼn oorwinning.

Maar toe klop hulle Glasgow verlede naweek ‒ en dit het die hoop laat ontstaan dat hulle verlede week se vertoning in die Baai kan herhaal. Wenrugby is in hul tweede seisoen ʼn vereiste, ook weg van hul tuisveld af.

Selfs verlede jaar, tussen die gesukkel deur, was daar stukkies baie goeie rugby.

Konsentrasie op die verdediging, dissipline en swak tweede helftes het hulle egter telkens gekelder.

Saterdag is dit ʼn kwessie van verbeter op dié aspekte wat verlede week teen Glasgow ook ‒ hoewel in mindere mate ‒ steeds daar was en om vir ʼn verrassing soos min te sorg.

Spanne:

Scarlets
15 Clayton Blommetjies, 14 Johnny McNicholl, 13 Jonathan Davies, 12 Paul Asquith, 11 Ioan Nicholas, 10 Rhys Patchell, 9 Sam Hidalgo-Clyne, 8 Blade Thomson, 7 Dan Davis, 6 Ed Kennedy, 5 David Bulbring, 4 Jake Ball, 3 Werner Kruger, 2 Ryan Elias, 1 Wyn Jones. Bank: 16 Marc Jones, 17 Phil Price, 18 Simon Gardiner, 19 Tom Price, 20 Uzair Cassiem, 21 Kieran Hardy, 22 Angus O’Brien, 23 Steff Evans.

Southern Kings
15 Masixole Banda, 14 Yaw Penxe, 13 Harlon Klaasen, 12 Berton Klaasen, 11 Bjorn Basson, 10 Martin du Toit, 9 Rudi van Rooyen, 8 Ruaan Lerm, 7 Andisa Ntsila, 6 Henry Brown, 5 John-Charles Astle, 4 Bobby de Wee, 3 Luvuyo Pupuma, 2 Michael Willemse (kaptein), 1 Ferreira Schalk. Bank: 16 Alandre van Rooyen, 17 Justin Forwood, 18 Rossouw de Klerk, 19 Schalk Oelofse, 20 Cyril-John Velleman, 21 Godlen Masimla, 22 Ntabeni Dukisa, 23 Tristan Blewett.

Skeidsregter: Sean Gallagher (Ierland).
Assistent-skeidsregter: Mark Patton (Ierland), Simon Rees (Wallis).
TV-skeidsregter: Sean Brickell (Wallis).

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.