Cheetahs en Lions: blaps bepaal amper die uitslag

Rohan Janse van Rensburg - verrassend op die vleuel waar hy twee keer druk (Foto GB Jordaan)

Rohan Janse van Rensburg – verrassend op die vleuel waar hy twee keer druk (Foto GB Jordaan)

ʼn Yslike blaps deur die wedstrydbeamptes sewe minute voor die eindfluitjie het so byna die uitslag van Saterdag se Superwedstryd tussen die Cheetahs en die Lions in Bloemfontein bepaal.

Dit het ʼn skitterende teenaanval sowat vier minute voor die einde gekos vir die Lions om die gevolglike agterstand van hierdie beslissing te oorkom met ʼn goeie drie deur Rohan Janse van Rensburg wat sy span 28-25 laat wen het.

Of dit die skeidsregter Quinton Immelman of sy assistent Rasta Rasivhenge was wat besluit het Andries Coetzee het die bal in sy eie kwartgebied ingedra, weet ʼn mens nie. Die beslissing het egter veroorsaak dat die Cheetahs ʼn aanvallende lynstaan binne die Lions-kwartgebied pleks van een naby die middellyn gekry het.

Van die lynstaan af het hulle toe ʼn strafskop binne trefafstand gekry en Fred Zeilinga, speler van die wedstryd wat 20 van die span se 25 punte aangeteken het, was nogmaals in die kol.

Die Lions het in die opwindende maar ietwat slordige wedstryd wat teen ʼn geweldige vaart afgesit het, op die lange duur minder foute gemaak en hulle kanse beter gebruik. Dit was seker moeilik om op die klam en sagte veld te hanteer, soos dit ook vir die voorspelers was om te skrum.

Tog het ʼn mens die indruk gekry dat die spelers teen elke prys wou hardlooprugby speel. Die gevolg was swak aangeë onder druk, heelwat omkeerbesit in bewegings waar die bal verlore gegaan het, en te dikwels spelers wat geïsoleer is wanneer hulle dan voorgekeer is.

Drie van die vier drieë was die gevolg van teenaanvalle na foute, met die laaste wat eers deur ʼn afbreekfase is.

In die ietwat ongestruktureerde wedstryd, van albei kante af, het die Lions miskien net daardie bietjie meer deurdringingsvermoë getoon en hulle het dan ook drie drieë teen een gedruk – een ʼn strafdrie van ʼn lynstaan-dryfmaal af.

Ietwat verrassend het die Lions hulle Springboksenter Rohan Janse van Rensburg op die regtervleuel laat speel hoewel hy saam met Howard Mnisi as senter gekies was. Lionel Mapoe het toe op senter saam met Mnisi gespeel en was deurgaans gevaarlik – soos ook Janse van Rensburg wat twee keer na goeie aanvoorwerk van eers Mapoe en Andries Coetzee, en toe teen die einde Ross Cronjé, gaan druk het.

Terwyl die tuisspan ongetwyfeld sterk in die prentjie was, het die Lions, miskien oor die minder foute en beter aangryp van hul kanse, verdien om te wen.

Wat egter soos ʼn paal bo water staan, is dat daar vir albei spanne heelwat werk voorlê.

Die rustydtelling was 6-elk, en toe het die Cheetahs uit die tonnel gekom en skielik meer doelgerig en met minder foute gespeel. Binne die eerste vyf minute het hulle met tien punte voorgeloop en toe moes die Lions stelselmatig terugveg om eers sowat 14 minute voor die einde met die strafdrie die voortou te neem, 23-22.

Toe het die uitskop-blaps en die Vrystaters se strafdoel gekom en hulle 25-23 laat voorloop voor die breekslag van Cronje van ʼn losskrum af wat Janse van Rensburg sy tweede drie en die wenpunte besorg het, 28-25.

Puntemakers –

Lions (6) 25: Drieë: Rohan Janse van Rensburg 2. Strafdrie. Doelskop: Elton Jantjies. Strafdoele: Jantjies 3.
Cheetahs (6) 23: Drie: Raymond Rhule. Doelskop: Fred Zeilinga. Strafdoele: Zeilinga 6.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Gerrie ·

Toe Uys die losmaal aftrek was dit ‘n strafdrie en hy was kas toe vir 10 min. Toe Meyer die losmaal aftrek was dit slegs ‘n strafskop, moes Meyer nie ook 10 min kas toe gegaan het nie?

Frans C ·

Beide spanne sal moet 100 % verbeter as hul nog wil saamgesels.Japan se rugby mag goed vir spelers se sakke wees maar nie vir Lions rugby nie. Spelers wat laasjaar uitblinkers was is bittermin van gesien.

Selfs J Fourie ( van Lions na WP na Japan)se spel het so agteruit gegaan dat hy nie meer die Springbokspan kon haal nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.