Cheetahs, Highlanders sorg vir riller met ses drieë elk

Raymond Rhule, speler van die wedstryd. (Foto: fscheetahs.co.za)

Ai, dit was nou lekker en goeie rugby – en dit was veral ook lekker met die spanning wat die wedstryd iets spesiaals gemaak het.

Daar was 12 drieë, ses vir elke span – maar dit was die laaste drie drieë binne die laaste vyf minute van Vrydagaand se wedstryd in Bloemfontein wat werklik getel en die Highlanders met 45-41 teen die Cheetahs laat wen het.

Daar was juweeltjies, deur albei spanne, in hierdie twaalf drieë. En die Vrystaters, toe hulle met 41-24 voor was en die speeltyd na vyf minute afgetik het, het gelyk of hulle vir ʼn yslike verrassing en skok teen die vierde span op die Nieu-Seelandse puntelys gaan sorg.

Die Cheetahs was rustyd met 15-10 voor. Dit het binne vyf minute ná die hervatting 22-10 geword.

En toe skrik die Highlanders die eerste keer werklik wakker en gaan druk binne vier minute twee maal wat saam met twee doelskoppe aan hulle ʼn voorsprong  van 24-22 gegee het.

Dit het skielik gelyk of hulle onkeerbaar na ʼn groot telling op pad was nadat hulle twee geelkaarte net voor en ná rustyd gekry het. Vir ses minute was hulle net 13 man op die veld, en vir 14 minute was hulle net 14 man.

Dit was egter nie sommer vir besgee deur die tuisspan nie. Swys Venter-hulle het toe besluit dis húlle beurt om los te trek en het, glo dit ofte nie, drie keer binne agt minute gaan druk en met 41-24 voorgeloop.

Raymond Rhule was deurgaans uitstekend op die aanval en met werk soek, en het in hierdie drieëvloed Tian Meyer se drie met ʼn lekker lopie en toe ʼn volmaakte skoppie in ʼn leë kol in aangevoer.

Toe het hy goeie werk gedoen in die opbou van Oupa Mohoje se drie waar William Small-Smith met goeie besluitneming die belangrikste skakel was.

Daarna was dit tussenspel tussen voor- en agterspelers met snybewegings na albei kante, en ook goeie rigtingverandering met aangeë wat Ox Nché laat oorduik het vir die aand se mooiste drie.

Hierdie voorryman wat goed skrum, oral opduik en boonop baie vinnig is, gaan nog diep spore trap.

Uzair Cassiem is in die 72ste minuut met ʼn geelkaart af na ʼn hoogvat toe die Highlanders sterk aangeval het. Maar die tuisspan het tot die 76ste minuut vasgebyt, voordat die Vrystaters hulle toe, ná 15 puntelose minute deur albei spanne, in die volle geweld van die Kiwi’s se aanvallende rugby vasgeloop het.

Twee drieë het van diep in hul eie gebied gekom, met die laaste wat ondanks verbete en vasberade keerwerk ná ʼn paar fases op die Cheetahs se doellyn gedruk is.

Puntemakers –

Cheetahs (15) 41: Drieë: Tian Meyer 2, Sergeal Petersen, Torsten van Jaarsveld, Oupa Mohoje, Ox Nche. Doelskoppe: Fred Zeilinga 4. Strafdoel: Zeilinga.
Highlanders (10) 45: Drieë: Marty Banks, Rob Thompson, Waisake Naholo 2, Tevita Li, Matt Faddes. Doelskoppe: Banks 6. Strafdoel: Banks.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Frans C ·

Ai Cheetahs dit was so was naby en tog sover ,Dit was soos ‘n visserman,wat die ou grote na ‘n lang gespook inkatrol en net toe hy die skepnet gryp om die vis uit die water te haal,spartel die los om nog ‘n dag vry rond te swem.

Joe Hall ·

Vreemd hoe die Cheetahs in die laaste minute van die wedstryd met ‘n telling van 41-24 voor loop en dan 3 doele (21 punte) binne enkele minute afstaan.
Laat mens aan rofstoei se dinge dink…

johann ·

My span het verloor maar rugby het gewen.In teëstelling met vele wedstryde wat met moeite gekyk word,was hierdie ongelooflik.Dit was jammer dat wen en verloor hier tel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.