Cheetahs in die Pro14-pylvak teen die Dragons

Sewe wegwedstryde verloor en net twee, waarvan een teen die Kings in Port Elizabeth, gewen.

Dit is die realiteit wanneer die Cheetahs Vrydagaand (21:35) hulle laaste oorsese wedstryd van die Pro14-seisoen speel.

Hulle kom teen die Newport Dragons te staan wat drie weke gelede die eerste slagoffers van die Kings in 17 wedstryde geword het toe die Baaise span tuis met 45-13 gewen het.

Met vier wedstryde wat oorbly is die Cheetahs steeds in die derde plek van groep B en daarmee in die uitspeelposisie.  Hulle is net vyf punte voor die Cardiff Blues teen wie hulle op 6 April in Bloemfontein in hulle voorlaaste wedstryd speel. En dan is daar nog die wedstryd wat die week daarná teen die verdedigende kampioen Munster voorlê

ʼn Neerlaag teen die Dragons sal dus ʼn groot terugslag, moontlik ʼn nekslag, vir die Vrystaters se uitspeelkanse wees.

Die Dragons het nog net twee van hulle 17 wedstryde gewen, slegs 31 drieë gedruk en het ʼn negatiewe punteverskil van 253 punte – hulle het met ander woorde gemiddeld met 15 punte per wedstryd verloor.

Die Cheetahs het 61 drieë gedruk, maar het daarenteen die meeste punte in afdeling A afgestaan. Hulle verdediging en dissipline, met 12 geel kaarte in 17 wedstryde, sal Vrydagaand moet beter.

Selfs met die nadeel dat die Cheetahs, soos die Kings, dikwels weke lank geen wedstryde het nie terwyl hulle teenstanders in die ander kompetisies soos die Europese Kampioene- en Uitdaagbekerreeks en die Anglo Welsh-reeks speel, behoort hulle darem hierdie een oorsee te wen.

Maar, só het ʼn mens al voorheen in hulle veldtog gevoel…

♦  Die Kings speel Saterdag (15:00) tuis teen Benetton. Die Kings is loshande met hulle enkele oorwinning (in hul laaste wedstryd) uit 17 die swakste span in die reeks. Benetton is vyfde op afdeling B se punteleer.

Dit is egter niksseggend, want Bentton se agt oorwinnings, met die uitsondering van die Cheetahs wat in Italië vasgeval het, is teen die reeks se swakker spanne behaal.

Benetton het die Kings in Treviso in hulle eerste kragmeting met 31-3 geklop. Maar dit was feitlik ses maande gelede.

Daar was drie weke gelede besliste verbetering in feitlik elke opsig deur die Oos-Kaapse span tydens hul enigste oorwinning teen die Dragons, en as hulle weer dié peil kan bereik is ʼn tweede sege beslis ʼn moontlikheid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.