Cheetahs kan uitspeelkanse verstewig; Kings weer onder druk

Met agt van hulle 21 wedstryde oor kry die Cheetahs Saterdag die kans om hul plek as derde span in afdeling A van die Pro14-reeks so te sê vas te messel.

Hulle speel op Cardiff Armspark (net agter die Millenniumstadion)  teen die Cardiff Blues wat in die vierde plek in die afdeling is – ʼn volle 15 punte agter die Vrystaters. Die Blues kan feitlik uit die wedloop om uitspeelplekke geskakel word as die Cheetahs hierdie wedstryd op die veld met kunsgras kan baasraak.

Die eerste drie spanne in elke afdeling kwalifiseer vir die uitspeelwedstryde in Mei.

Maklik sal dit nie wees teen die Blues nie. Die Cheetahs het nog net een keer oorsee gewen, met ʼn enkele punt teen die Italiaanse span Zebre wat laaste in afdeling A is; kunsgras is vir die Vrystaters  ʼn nuutjie; die voorspelling is dat dit Saterdag heeldag in Cardiff sal reën; en die temperatuur sal hier by die agt grade Celcius wees.

Donderdag se aankondiging dat hulle hoofafrigter Rory Duncan hulle gaan verlaat vir die groener weiveld by die Worcester Warriors, en die feit dat hulle na die skokneerlaag teen Benetton op 6 Januarie nog net  teen die swak Kings weinig teenstand en twee wegholoorwinnings gehad het, is ook faktore wat dit vir Swys Venter-hulle moeilik kan maak.

Aan die ander kant het die Blues laas op 26 Desember ʼn Pro14-wedstryd gewen – teen die swakkerige Dragons wat nog net twee uit 13 gewen het.

Die Blues het sedertdien teen hul mede-Walliesers, die Scarlets en die Ospreys, verloor.

Afskop: Saterdagaand 21:35

Ulster vs Kings, Vrydagaand 21:35

Vrydagaand speel die Kings in Ulster teen die derde geplaaste span in afdeling B met Joy Neville as skeidsregter – die eerste vrou word wat in die reeks sal blaas.

Die verwagte temperatuur sal glo net onder of bo vriespunt wees, en die Kings sal nie veel troos kan put uit die feit dat Ulster se nuwe afrigter, Jono Gibbes, die eerste keer in beheer is in die plek van Les Kiss wat gepos is nie.

Boonop is die Kings se afrigter, Deon Davids – amptelik vir siekte, maar dalk oor samesprekings vir ʼn pos by die Bokke – nie saam met die span op toer nie.

Dertien uit dertien is die neerlaag-telling van die Kings, wat seker weer goed sal begin, maar dan in duie sal stort weens ʼn verskeidenheid faktore, waaronder die verdediging wat nie op dieselfde vlak as hul aanvalsvermoë is nie; leierskap op en van die veld af; en die onvermoë van die spelers om by hulle strukture te hou.

Maar wie weet, dalk, net dalk, is die skommelinge by Ulster die Kings se kans om deur te breek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Boerseun ·

Die melk plaas op vrede laat my aan kings dink, mooi praatjies en verskonings maar geen russeltaat

rollie ·

Kon die Cheetahs al ‘n wedstryd oorsee wen? Lyk maar dieselfde as hul gesukkel in superrugby, hulle wen nou net meer wedstryde tuis.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.