Cheetahs keer hulle rits neerlae om teen die Sunwolves

Die droogte is ná nege neerlae verby. Die Cheetahs het Saterdagoggend in Tokio, Japan, hul rampspoedige Superreeks ʼn katspoegie van ʼn ligpunt gegee deur die Sunwolves met 47-7 te klop.

Die rustydtelling was 14-0.

Hoewel die Cheetahs met dié uitslag kan spog was dit hoegenaamd nie ʼn uithalervertoning nie. Daar is ʼn rede hoekom die Sunwolves die bodemskrapers van hierdie toernooi is en om ʼn oorwinning uit die Land van die Opkomende Son te trek is so goed soos ʼn hengelaar om oor sy opbrengs uit ʼn koi-poel te praat.

Die Sunwolves is tans hulpeloos in alle fasette van die spel. Die Cheetahs het vir 40 minute nie veel beter gelyk nie. Ná die omdraaislag het die Sunwolves se verdediging harakiri gepleeg en sodoende was die eindtelling ten gunste van die besoekers getooi.

Uzair Cassiem het twee keer agter die doellyn gaan kuier, met Neill Jordan, Niel Marais, Torsten van Jaarsveld, Tian Meyer en Sergeal Petersen wat tot die Cheetahs se sewe drieë bygedra het. Daarbenewens was Marais met vyf doelskoppe suksesvol en die slot Francois Uys het self met ʼn skuins een ook twee punte bygevoeg.

Die Cheetahs se vorige sege was tien wedstryde gelede teen die einste Sunwolves in Bloemfontein toe die tuisspan met 38-31 geseëvier het.

Gebrekkige verdediging het die Cheetahs nog die hele seisoen gekniehalter, maar Saterdagoggend het hul hande met gunstige besit hulle net soveel in die steek gelaat. Tien aanslane is nie goed genoeg nie, en dit sluit nie eens die gevalle in waar die Sunwolves voordeel gekry het en daar nie vir ʼn skrum geblaas is nie.

Daar is ook te veel omkeerbesit (21) by die afbreekpunte afgestaan.

Tog, ʼn oorwinning met 40 punte bly ʼn broodnodige oorwinning.

Puntemakers:

Sunwolves (0) 7: Drie: Sam Wykes. Doelskop: Yu Tamura.
Cheetahs (14) 45:
Drieë: Uzair Cassiem 2, Niell Jordaan, Niel Marais, Torsten van Jaarsveld, Tian Meyer, Sergeal Petersen. Doelskoppe: Marais 5.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.