Cheetahs klop Griekwas in nat buurstryd

Makazole Mapimpi en Clayton Blommetjies. (Foto Facebook: Clayton Blommetjies)

Dit gaan ʼn lang, strawwe en uitmergelende rugbyseisoen vir veral die kleiner bonde in dié seisoen se Curriebeker-reeks wees.

Dit het die Vrystaatse Cheetahs Saterdag in Bloemfontein in ʼn nat Vrystaat-stadion bewys toe hulle hul aanslag op ʼn skaflike noot begin het deur hul buurstryd met Griekwas met 30 – 10 te wen nadat hulle rustyd met 23 – 3 voor was.

Die Cheetahs ken al jare lank die kort paadjies en wou aanskoulike rugby speel, maar die glibberige bal en speeloppervlak ná die reën wat Vrydag en Saterdagoggend uitgesak het, het sake bemoeilik.

Dit was heeltemal verstane, want om in Januarie in die middel van die somer rugby te speel, gaan baie van die spelers se vaardighede, fiksheid en die spanne se diepte verg.

Die Cheetahs gaan oudergewoonte swaar op die ervaring van Clayton Blommetjies, Frans Steyn en Ruan Pienaar leun om agterlangs die kitaar te slaan.

Met snellers soos Craig Barry en Malcolm Jaer om af te rond en die vaardige David Brits in die middelveld, is daar baie plofkrag.

Die Cheetahs kort dalk nog ʼn paar breker-voorspelers om enduit in die seisoen by te hou, hoewel Renier Bernardo, Louis van der Westhuizen en Andisa Ntsila hul man deeglik behoort te staan.

Aan Griekwas se kant gaan dit weer ʼn beproewing wees. Maar die Poubloues is een van daardie spanne wat nooit gaan lê of handdoek ingooi nie, hoewel spelerdiepte ʼn probleem kan raak.

Twaalf spelers in die groep van 23 het Saterdag hul buigings vir Griekwas gemaak, ­van wie agt die eerste keer Curriebekerrugby vir Griekwas gespeel het.

ʼn Mens lig jou hoed vir die passie en geesdrif waarmee die jongelinge speel, maar dit kan vorentoe lol wanneer daar diep gedelf moet word.

Punte: Vrystaat-Cheetahs 30 (23) Drieë: Marnus van der Merwe, David Brits, Louis van der Westhuizen. Doelskoppe: Ruan Pienaar (3). Strafdoele: Pienaar (3).

Griekwas 20 (3) Drieë: Ruan Steenkamp, Luther Obi. Doelskoppe: Zander du Plessis (2). Strafdoele: Du Plessis (2).

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.