Cheetahs kraai koning in Bloemfontein

(Foto: Twitter)

Ja, dit sal dalk nie die toekenning vir die aanskoulikste wedstryd van die dekade wen nie, maar die Cheetahs het ’n lekker slag geslaan toe hulle die hoogsaangeskrewe (dog stotterende) Bulls-span met 19 – 17 in Bloemfontein geklop het.

Dit is die Vrystaters se tweede agtereenvolgende sege in die Superrugby Unlocked-reeks nadat hulle verlede week die Pumas in ’n drieëfees ore aangesit het. En die oorwinnings sal vir afrigter Hawies Fourie breed laat glimlag.

Want sy span het eerstens gewys dat hulle oor genoeg flair en ondernemingsgees beskik om hardlooprugby te speel, terwyl hulle ook dieper kan delf om minder aanskoulike wedstryde te wen.

Gisteraand se verrigtinge het op die slegste manier moontlik vir al twee spanne begin: Gio Aplon en Ruan Pienaar moes die veld met ernstige beserings verlaat het.

Volgens die Cheetahs-hulpafrigter Corniel van Zyl het Pienaar moontlik sy ligamente geskeur, wat beteken dat die Vrystaat-kaptein vir die res van die seisoen langs die kantlyn kan wees.

Ná Tian Schoeman en Morné Steyn ’n strafskop of twee uitgeruil het, het Rosko Specman die wedstryd se eerste drie gedruk. Maar waar die vlieënde Blitsbok se heldedade normaalweg punte vir Pretoria beteken het, draai hy deesdae oranje en wit stukkies in sy rastalokke; en die Cheetahs het ’n rustydvoorsprong van 13 – 3 geniet.

In die eerste helfte was die Bulls basies die teenoorgestelde van ’n koning Midas:  Min of meer enigiets waaraan hulle gevat het, het in ’n fout  verander – van ’n aanslaan tot ’n skewe ingooi by ’n lynstaan.

Jake White het seker vir sy span die Leviete in die kleedkamer voorgelees, want in die volgende helfte het hulle soos oudergewoonte met ’n rolmaalbeweging oor die doellyn gestoomroller.

Hul plaasvervanger-losskakel Chris Smith, wat pas met ’n reuse-strafskop geslaag het, het egter die doelskop verbrou en die Pretorianers het die wedstryd met twee punte verloor.

  • Puntemakers:

Cheetahs: Drie: Rosko Specman. Doelskop: Tian Schoeman. Strafskoppe: Schoeman (4).

Bulls: Drie: Joe van Zyl. Strafskoppe: Morné Steyn (3), Chris Smith.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Adam Adriaan ·

Ja die Bulle kort nog net twee nuwe slotte. Een vir die voorhek en een vir die agterhek van Loftus!!!!

MakersMark ·

Die jagluiperdjies is vir ‘n rede hul speel status kwyt. Die geldlose stompies gaan nou nuweland verlaat en aansukkel op die sokker stadion. Bulle bly op Loftus en sal nog vir lank !! Jaloesie kan darem ‘n mens opvreet.

Frans ·

D ie wedstryd is verby en die Cheetahs w en 19-17.Wat kan ‘n mens w ys w ord uit ‘n wedstryd waarin die kommentators lewe probeer blaas het.D ie C heetahs se samespel is stukke beter as die Bulls wat talle foute begaan het en nooit agterlangs as ‘n kombinasie aan die gang kon kom nie.

W arom SA RU besluit het om die vier grotes N oorde toe te stuur sal net hulw eet,want nie een van die spanne wat al op die veld was sal enige sukses soos hul nou speel behaal teen die voorste Kiwi en Aussie spanne nie en dit dalk die rede vir hulbesluit is.

Die span w at m i die beste toegerus is om sukses te behaal is die Stormers w at voorlangs veral in die vo0rry beter toegerus is as enige van ander spanne in Suid Afrika.Gaan die Bulls ‘n goeie span word?

Ja hul kan beter maar ek is bevrees dat die beste dae van Morne Steyn verby is en die Bulls se agterlyn

gaan sukkel in die tydperk van opskiet verdediging want jy het ‘n losskakelnodige w at met flinke voetwerk en spoed dit kan oorkom.

Steve ·

Geniet ek die bulle se pak slae.
Sedert hulle daai misoes van ‘n White as afrigter aangestel het, sal hierdie eens bulle ondersteuner nooit weer my voete op loftus sit nie. Rus in vrede

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.