Cheetahs kry hul grootste pak in die kwarteind

Die Cheetahs, wat nie lekker getoer het in hulle eerste seisoen in die Pro14-reeks nie, het Saterdagaand in die kwarteindstryd hulle grootste loesing van die seisoen gekry.

Die verdedigende kampioen, die Scarlets, het hulle tuis met 43-8 afgeslag nadat die Walliesers rustyd reeds met 24-3 voor was.

Die Rooitruie het ses drieë gedruk. Die Vrystaters het gelyk of hulle deurdring  totdat Clayton Blommetjies in die 75ste minuut gaan druk het teen wat aanstaande seisoen sy tuisspan word. Die Cheetahs se ander punte was ʼn strafdoel ná tien minute deur Johan Goosen.

Tot hulle eer het die Cheetahs in die laaste 19 minute geen punte afgestaan nie.

In hulle eerste twee wedstryde het die Cheetahs teen Ulster met 19-42 verloor (met 22 punte) en toe teen Munster met 18-51 slae gekry (33 punte). Saterdagaand is hulle ook van die veld gespeel en het hulle met 35 punte verloor, wat dus hulle grootste neerlaag is.

Die Cheetahs het soos tiere verdedig, maar die tuisspan, wat feitlik op volle sterkte was en ʼn hele paar toetsspelers in hulle geledere gehad het, was net eenvoudig van ʼn ander gehalte.

Tier Schoeman het byvoorbeeld 17 duikslae uitgevoer, Oupa Mohoje 12 en Torsten van Jaarsveld 11; maar aan die wenspan se kant was daar vier spelers, insluitende die een vleuel en die losskakel, wat nie enkele keer nodig gehad het om te keer nie.

Vir die Cheetahs, wat net twee oorsese wedstryde uit 10, insluitende hierdie kwarteind, kon wen, was hierdie eerste oorsese seisoen ʼn groot leerkurwe. Ongelukkig verloor die Bloemfonteiners, soos al gewoonte geword het, ʼn hele paar van hulle voorste spelers vir aanstaande jaar se Pro14-veldtog, insluitende hulle kaptein Francois Venter en hulle afrigter Rory Duncan.

♦  Die twee halfeindstryde in die reeks word op 18 Mei gespeel, wanneer Glasgow Warriors tuis teen die Scarlets te staan kom en Leinster tuis teen hulle mede-Iere Munster speel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Frans C ·

In die Noordelike halfrond word rugby soos sokker hanteer.Sokkerspanne wemel van internasionale spelers,maar wanneer dit by die wêreldbeker kom vaar ‘n span soos bv
Engeland swak.
Europese rugbyspanne en die NZ en Australiese spanne is glad nie skaam op van ander lande se spelers gebruik te maak nie.Europese rugbyspanne trek spelers van oor die
wêreld,terwyl NZ en Australiese spanne mildelik gebruik maak van Suid See eilandspelers en kry ‘n mens orals manne van Fidji.

Dit is net Suid Afrika wat af en toe ‘n buitelandse speler insluit,maar as die soos bv
Huw Jones (skot) ‘n span soos die Stormers verlaat is daar dadelik ‘n groot leemte in die middelveld.Indien Suid Afrika nie die pad van Europese rugby wil loop nie sover dit die Super 15 aanbetref,moet daar ‘n plan gemaak word om soos NZ ‘n beter spelertoewysing na spanne te maak,want dit is duidelik dat spanne soos bv die Lions
sonder hul kaptein en ander glad nie dieselfde span as die afgelope 2 jaar was nie en sukkel om dieselfde spelpeil te behaal.

Om in die Pro 14 te speel is om die spelerverlies aan te moedig soos die Cheetahs uitgevind het.Die Rand is geen kompetisie vir die pond en euro nie.

nico k ·

Frans, jou voorstel klink goed, maar ons het nie die geld om te kompeteer met Europese spanne nie. Daarom sal ons nooit kan kompeteer met Europa se klubspanne nie. Ons sal maar moet konsentreer op ons nasionale span en kyk na al daai SA spelers was daar klubrugby speel en as hulle goed genoeg is nader te trek vir die Sprigbokke.

Frans C ·

Nico K
Sover dit die Pro 14 kompetisie aaanbetref was dit juis vir die rede wat jy noem,vir my vreemd dat die Cheetahs en Kings ‘gedwing’ is,in die Pro 14 in.Suid Afrikaanse rugby het niks daarby gebaat nie en het trouens ‘n paar spelers en afrigter daar verloor.

Ons moet eenvoudig ‘n nuwe benadering tot die samestelling van ons Super 15 spanne kry.Dit help nie spelers verskuif plaaslik heen en weer tussen spanne en nie nie een span
is suksesvol nie.Jy kan maar seker wees NZ afrigters het die pak slae wat die Hi-landers
gekry het deeglik bestudeer en werk tans hard aan teenvoeters ingeval die Sharks
sou deurdring.

Moenie verbaas wees as daar ewe skielik ‘n paar nuwe gesigte uit hul voederspanne kom
om ‘beseerde spelers’ te vervang nie.Maar Suid Afrika se doodsteek is sy provinsialistiese benadering tot die spel en kraak selfs kommentators verloorspanne af,eerder as om werkbare voorstelle op die tafel te plaas.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.