Cheetahs kry weer loesing, lam Lions oortuig nie

Dit was nou regtig nie ʼn wedstryd waarop die Lions sal trots wees nie, maar hulle het nietemin Vrydag teen die Brumbies gewen. Die Cheetahs, daarenteen, het teen die swakste Nieu-Seelandse span, die Blues, ʼn loesing gekry.

Die Cheetahs is in Auckland met 50-32 geklop – die agste opeenvolgende wedstryd waarin ʼn SA span meer as 40 punte teen die Kiwi’s afstaan.

♦  Die Lions het in Canberra met 13-6 gewen nadat hulle rustyd met 0-3 agter was. Hulle het minder besit en minder gebiedsvoordeel gehad en kon nie met hulle vloeiende aanvallende rugby aan die gang kom nie.

Dit is die storie van die seisoen waar die Lions nog nie altyd op hulle beste was nie – en beloof op hierdie vertoning nie goed vir die uitspeelrondes vorentoe nie, waar die Lions ongetwyfeld sal uitkom.

In die tweede helfte het dit effens beter met die Lions gegaan en Kwagga Sit se drie in die 53ste minuut was die Lions se enigste met Andries Coetzee se strafdoel in die laaste minuut wat alle twyfel oor die uitslag uit die weg geruim het.

Die Brumbies het meer gehardloop, redelik steriel met die bal in die hand vertoon en meer foute gemaak, wat die Lions nie werklik kon uitbuit nie, en het beter verdedig en meer kere die lyn gebreek. Omkeerbesit deur die Lions het egter die tuisspan se amperse verrassende oorwinning gefnuik.

Hierdie wedstryd het beklemtoon dat oorsee wen nie maklik is nie.

♦  Die Cheetahs het, soos altyd, hulle oomblikke op die aanval gehad, maar hulle verdediging was weer hulle ondergang. Agt drieë is teen die Vrystaters gedruk, en hulle het nou reeds 56 in die reeks afgestaan – verreweg die meeste in die hele reeks en sewe maar as die Sunwolves.

Die Cheetahs het met twee strafdoele van Fred Zeilinga in die laaste paar minute voor rustyd tot 18-24 nader gekruip om hulle op die telbord ʼn wenkans te gee.

Drie drieë kort na rustyd het die wenteiken egter buite hulle vermoë geplaas.

Dit was die Cheetahs se agste neerlaag in tien wedstryde waarvan die laaste sewe na mekaar was.

Puntemakers –

Blues vs Cheetahs
Blues (24) 50:
Drieë: Rieko Ioane 2, Scott Scrafton, Akira Ioane, Patrick Tuipulotu, Steven Luatua, Augustine Pulu, Melani Nanai. Doelskoppe: Piers Francis 2, Ihaia West 3.
Cheetahs (18) 32:  Drieë: Francois Venter, Torsten van Jaarsveld, Elandré Huggett 2. Doelskoppe: Fred Zeilinga 3, Strafdoele: Zeilinga 2.

Brumbies vs Lions
Brumbies (3) 6:
Strafdoele: Wharenui Hawera 2.
Lions (0) 13: Drieë: Kwagga Smith. Doelskop: Elton Jantjies. Strafdoele: Jantjies, Andries Coetzee. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Johan ·

Ai Wim – ek is self ‘n bloubul maar wraggies om so bitterbek te wees oor die top SA span – Eish! Miskien moet jy na die puntestand op die “logs” kyk en terugdink aan Boy Louw wat na sulke klein kritiek gesê het – “You looks at the scoreboard”

joe1975 ·

Ja nee Wim. Die kenmerk van n’ goeie span is om te wen al speel hulle benede hul gewone spelpeil. Die leeus is deur hul toer onoorwonne wat eerder gelukwense in orde moet wees.

Robert ·

Raymond Rhule is definitief nie in die span vir sy spelpeil of verdeding nie. Wonder wat hou hom daar…….

Frans C ·

Die Brumbies was daarop uit om die Leeus se gewone spel met vinnige opskietverdediging te fnuik en hul balbesit te vertraag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.