Cheetahs maak wéér so op hulle tuisveld

Makazole Mapimpi op pad doellyn toe met die Ospreys se James Hook wat nie kan keer nie. (Foto: Pro14 – Facebook Cheetahs )

Oos Wes, tuis bes. Só lui die ou spreekwoord, en die Cheetahs glo dit ná drie tuisoorwinnings in die Pro14 gewis. En aanstaande week speel hulle weer in die Vrystaatstadion.

Vrydagaand het die Cheetahs, ná twee groot neerlae in hulle eerste Pro14-wedstryde oorsee, hul derde tuissege behaal toe hulle die Ospreys met 44-25 geklop het.

Die Cheetahs het ses drieë gedruk en vir die derde opeenvolgende naweek vyf ligapunte op die punteleer bygevoeg teen ʼn span met vyf manne wat al vir die Britse en Ierse Leeus en ook ʼn paar wat vir Wallis gespeel het.

Die eerste 20 minute is deur die tuisspan oorheers wat toe feitlik dubbel soveel besit as die Ospreys gehad het. Die Vrystaters was ook gerieflik met 15-0 voor toe die Ospreys reggeruk en hulle beste kwart van die wedstryd gespeel het.

Hulle het die Cheetahs ingehaal en verbygesteek, en was miskien, ná ʼn skitterende eerste drie van Makazole Mapimpi, ietwat ongelukkig om met 17-22 teen die tuisspan agter te wees.

In  die geheel was dit ʼn lekker wedstryd. Goeie verdediging aan albei kante het vloeiende hardlooprugby bemoeilik, maar daar was nietemin genoeg beweging en gewilligheid in die wedstryd om dit ʼn goeie kragmeting te maak.

As die Cheetahs gekritiseer kan word, is dit oor te veel verspeelde geleenthede, veral voor rustyd, deur middelmatige hantering; en hopeloos te veel strafskoppe wat teen hulle toegeken is.

Torsten van Jaarsveld moes hiervoor boet toe hy oortree het nadat die skeidsregter net eenvoudig te veel van die Cheetahs geduld het.

Mapimpi het weer gewys hoe gevaarlik hy op die aanval kan wees; hy het ook ʼn pragtige hoekskop van Tiaan Meyer in die doelgebied uit die lug gepluk om ʼn tweede drie by sy agter vleueldrie in die hoek te voeg en mooi gehardloop vir Van Jaarsveld se tweede drie.

Meyer self was kookwater. Sy spel en die voorspelers wat as ʼn pak aggressief en doeltreffend was, was ander hoogtepunte.

Aanstaande Vrydag speel die Cheetahs tuis teen die voorlopers van groep A, die Glasgow Warriors, in wat ʼn verdere toets vir die nuwelinge in die reeks sal wees.

Puntemakers –

Cheetahs
Drieë: Torsten van Jaarsveld 2, Paul Schoeman, Makazole Mapimpi 2, Francois Venter. Doelskoppe: Ernst Stapelberg 3, William Small-Smith. Strafdoele: Stapelberg 2.
Ospreys
Drieë: Kieron Fonotia, Rhys Webb, Dan Evans. Doelskoppe: Dan Biggar 2. Strafdoele: Biggar 2.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Lol ·

Mapimpi is beter as Rhule. Ironies maar hy is Kings speler. Die Vrystaat/ Cheetahs kla altyd hulle spelers word gekoop?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.