Cheetahs met nuwe kaptein, twee nuwelinge teen Lions

Raymond Rhule sal wil aangaan waar hy verlede seisoen opgehou het. (Foto: fscheetahs)

Raymond Rhule sal wil aangaan waar hy verlede seisoen opgehou het. (Foto: fscheetahs)

Die Cheetahs-span wat Saterdagmiddag hulle Superrugby-veldtog teen die Lions in Bloemfontein begin, het twee debutante in die opdrafvyftiental en ‘n nuwe kaptein.

Franco Smith, afrigter van die Cheetahs, het die haker Torsten van Jaarsveld as kaptein in die plek van die gereelde kaptein Francois Venter, wat beseer is,  aangewys.

Daarby sal die senteraanaanwins van die Griekwas, Clinton Swart en die slot Justin Basson ook Saterdagmiddag hulle eerste proesel Superrugby kry.

Swart sal met Nico Lee in die middelveld kombineer in wat as ‘n opwindende kombinasie beskou kan word. Lee het reeds verlede jaar in die Bloemfonteiners se Curriebekerveldtog die verbeelding met sy rugbyvernuf aangegryp.

Op losskakel het Smith op Fred Zeilinga besluit. Niel Marais, wat verlede jaar in die Curriebekereindstryd in die opdrafvyftiental was, is op die bank.

Agterlangs sal die regtervleuel Sergeal Petersen, wat einde verlede jaar saam met die Springbokke getoer het en in die spervuur beland het oor sy gebreke op die verdediging in die wedstryd teen die Britse Barbarians, wil wys dat hy die afseisoen vrugbaar aangewend het.

Die linkervleuel, Raymond Rhule, wat verlede seisoen kookwaterrugby gespeel het, sal ook wil aangaan waar hy verlede seisoen opgehou het.

Die sleutel tot die Cheetahs se welslae sal waarskynlik voorlangs bepaal word waar die voorry van Charles Marais, Torsten van Jaarsveld en Johan Coetzee die besoekers tot oorgawe sal probeer dwing.

Daarby bevind die voorrymanne Elandré Huggett, Danie Mienie en Ox Nché hulle op die bank en kan hulle, indien hulle speelkans kry, die Johannesburgers se gal verder vir hulle werk.

Cheetahs
15. Clayton Blommetjies, 14. Sergeal Pieterson, 13. Nico Lee, 12. Clinton Swart, 11. Raymond Rhule, 10. Fred Zeilinga, 9. Tian Meyer, 8. Paul Schoeman, 7. Oupa Mohoje, 6. Uzair Cassiem, 5. Reniel Hugo, 4. Justin Basson, 3. Johan Coetzee, 2. Torsten van Jaarsveld (kapt.), 1. Charles Marais. Bank: 16. Elandré Huggett, 17. Danie Mienie, 18. Ox Nche, 19. Francois Uys, 20. Niell Jordaan, 21. Zee Mkhabela, 22. Niel Marais, 23. Ryno Benjamin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.