Cheetahs net-net bo teen Kings in die Baai

Die laaste Superwedstryd van die Southern Kings en die Cheetahs het Vrydagaand in Port Elizabeth ʼn tydvak in Suid-Afrikaanse rugby se beroepsera afgesluit met ʼn wedstryd wat vir heelwat spanning en plek-plek goeie rugby gesorg het.

Die Cheetahs het met ʼn enkele punt, 21-20, gewen nadat hulle met rustyd nog 3-12 agter was en die Kings toe beheer oor die wedstryd gehad het.

Na 50 minute was dit 17-3 in die guns van die tuisspan en drie drieë teen geen – en dit sou meer gewees het, was dit nie vir die Vrystaters se puik verdediging op hulle doellyn na die einde van die eerste helfte nie.

Met net 12 minute oor, het die Cheetahs egter posisionele beheer geneem, twee goeie drieë gaan druk en die wenpunte vyf minute voor die einde via ʼn strafdoel van Neil Marais aangeteken.

Die wedstryd sal vir die goeie terugvegpoging van die Cheetahs onthou word eerder as vir die rugby wat gespeel is. Daar was te midde van stukkies goeie spel heelwat geniepsigheid, te veel strafskoppe wat vir albei spanne in ʼn stadium seker ʼn geel kaart vir herhaalde oortredings moes beteken het, en die hanteerwerk was nie suiwer genoeg vir twee spanne wat vir hulle hardloopspel geken word nie.

Maar die groterige skare, wat van hulle Superspan afskeid kom neem het, het met oorgawe geraas en sal moontlik later vanjaar weer rugby deur die Kings, seker met ʼn paar nuwe gesigte, in die Baai te siene kry.

Die besluit oor die Pro12-reeks sal Dinsdag bekend wees.

Puntemakers – 

Kings (12) 20: Drieë: Makazole Mapimpi, Wandie Mjekevu, Lubabalo Mtyanda. Doelskop: Lionel Cronjé. Strafdoel: Cronjé.
Cheetahs (3) 21: Drieë: Clinton Swart, Raymond Rhule. Doelskop: Niel Marais Strafdoele: Fred Zeilinga 2, Marais

♦ Vrydagoggend het die Highlanders ondanks hulle eie gesukkel maklik met die Reds in Hamilton klaargespeel. Die telling was 40-17 en met die oorwinning kan die Sharks hulle nie meer in die sewende plek verbysteek nie.

Die Sharks, agste, sal dus aanstaande naweek teen die eerste geplaaste span in hulle kwarteind te staan kom.

Hulle sal Saterdagoggend (09:35) net so hard soos die Lions duim vashou dat die Hurricanes teen die Crusaders wen. Dit sal die Lions eerste in die reeks plaas en al hul uitspeelwedstryde sal dus tuis wees.

Die  Sharks sal dan in plaas van Christchurch toe net OR Tambo toe hoef te vlieg vir hulle kwarteind teen die voorste span – die Lions.

♦ In Melbourne het die Rebels Vrydagoggend ʼn ruk lank gedreig om te verras teen die Jaguares, maar die Argentyne het in die tweede helfte die agterstand van 13 -22 met 19 punte binne 15 minute uitgewis en met 32-22 voorgeloop voordat die Rebels in die laaste minuut ʼn troosdoel aangeteken het (32-29).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frans C ·

Die Kings kan net hulself blameer want hulle het ‘n goeie voorsprong deur hul vingers laat glip
met swak spel en sodoende die geleentheid om die Cheetahs vir die eerste keer te klop deur hul vingers laat glip.
Bygesê hulle en die Sunwolwes het my en menig ander Superbru se ‘picks’ ‘n gevoelige slag toegedien.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.