Cheetahs nou enigste onoorwonne span

Die Cheetahs is die enigste onoorwonne span in die Curriebekerreeks. Foto: Twitter.

Die Vrystaatse Cheetahs is tans die enigste onoorwonne span in die Curriebekerreeks nadat hulle gister die Westelike Provinsie met 24 – 17 in Bloemfontein geklop het.

Die eerste helfte was weliswaar nie ’n vertoonvenster vir hardlooprugby nie en die Streeptruie het ’n rustydvoorsprong van 3 – 0 danksy Kade Wolhuter se skopskoen geniet.

Die tuisspan het egter in die tweede helfte die krane oopgedraai en hulle het drie drieë gedruk.

Puntemakers:

Cheetahs: Drieë: Marnus van der Merwe, Gideon van der Merwe en Reinhardt Fortuin. Doelskoppe: Ruan Pienaar (3). Strafskop: Pienaar.

Westelike Provinsie: Drieë: Angelo Davids en Roelof Smit. Doelskoppe: Kade Wolhuter (2). Strafskop: Wolhuter.

  • ’n Sterbelaaide Bulle-span – met spelers soos Morné Steyn, Arno Botha en Madosh Tambwe in die beginvyftiental – het te veel skietgoed op ’n sopnat Loftus Versfeld gehad.

Die tuisspan het die Haaie met 35 – 21 geklop om die tweede plek op die Curriebeker-punteleer in te neem.

Arno Botha. Foto: GB Jordaan.

Dit was egter nie ’n seepgladde vertoning nie en die Bulle het – soos wat Christia Visser sou sê – die deur met tye vir die Durbaniete oopgelos.

Selfs nadat twee Haai-spelers met geel kaarte van die veld gestuur is, het hulle steeds rustyd met 18 – 14 voorgeloop.

Tog was die Bulle uiteindelik net te goed.

Puntemakers:

Blou Bulle: Drieë: Strafdrie, Madosh Tambwe, Keagan Johannes, Arno Botha en Elrigh Louw. Doelskoppe: Morné Steyn (4).

Haaie: Drieë: Murray Koster en Marnus Potgieter. Doelskop: Jordan Chait. Strafskoppe: Chait (2) en Inny Radebe.

  • ’n Griekwas-blitzkrieg in die tweede helfte het gesorg dat die Poubloues die Leeus met 49 – 17 in Kimberley oorrompel het.

Die tuisspan het sewe drieë in die wedstryd gedruk.

Puntemakers:

Griekwas: Drieë: Munier Hartzenberg, Johan Mulder, Sango Xamlashe, Kudzwai Dude, Mzwanele Zito, Rynhardt Jonker en Hanru Sirgel. Doelskoppe: Zander du Plessis (5) en Prince Nkabinde (2).

Leeus: Drieë: James Mollentze en Divan Rossouw. Doelskoppe: James Tedder (2). Strafskoppe: Tedder.

  • Punteleer:
  1. Cheetahs: 22 punte
  2. Blou Bulle: 20 punte
  3. Haaie: 18 punte
  4. Griekwas: 15 punte
  5. WP: 7 punte
  6. Pumas: 5 punte
  7. Leeus: 2 punte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
quartus

Ja, en dit is die einste Cheetas wat uit superrugby geskop is. Laat n mens dink, ne?

SjN

Die curriebeker begin afgewater raak.