Cheetahs pluk oorwinning uit kake van ‘n nederlaag

Foto: SouthernKingsSA/Twitter

Daar is ʼn uitdrukking in sport wat lui dat niks verby is voordat die vet tannie gesing het nie, met verwysing na een van Richard Wagner se operas, waar ʼn lywige sopraan vir die laaste 20 minute lostrek om die einde van die wêreld aan te kondig.

Saterdag in die Nelson Mandelabaai-stadion in Port Elizabeth is die braaivleisvure in die Baai al aangesteek met die Southern Kings wat met 30-24 voor was teen die Cheetahs in die Pro14-reeks.

Die Cheetahs, wat in ʼn stadium diep in die tweede helfte met 12-30 agter was, het twee vinnige drieë gedruk om al hoe nader aan die Kings te kruip. Met die laaste beweging op die Kings se doellyn het die Cheetahs se plaasvervangerskrumskakel, Ruan Pienaar, die bal uit ʼn losskrum gepluk en in plaas daarvan om dit uit te gee, het hy dit hoog na die kantlyn geskop waar die heelagter Rhyno Smith die bal uit die lug gepluk het (en amper aangeslaan het) om naby die pale en kort voor die doodlyn oor te duik.

Die Kings het moedeloos onder die pale gestaan terwyl die skeidsregter, Stuart Berry, die beslissing na die TV-skeidsregter verwys het … en die drie toegeken het.

Pienaar se doelskop was ʼn blote formaliteit.

Die oorwinning het die Cheetahs tot 23 ligapunte in nege wedstryde in Afdeling A laat opskuif, agter Leinster (47), Ulster (36) en die Glasgow Warriors (26).

Wat in die Cheetahs se guns tel, is dat hulle aanstaande Saterdag in Bloemfontein weer teen die Kings speel en dan tot die derde posisie kan opskuif.

Verdien die Cheetahs dit?

Nie soos hulle in die eerste uur vertoon het nie, want hulle het baie ongedwonge foute begaan, bottervingers gehad en verroes gelyk. Maar vir hul veggees en vasbyt moet hulle volpunte kry.

Die Kings was vol vuur en het in die eerste uur een van hul beste vertonings gelewer, maar vergeet om ʼn moontlike sege in die sakkie toe te knoop. Was dit ʼn gebrek aan fiksheid en ervaring, of het hulle die afgelope twee seisoene afgeleer hoe om af te rond wanneer dit werklik saak maak?

Die Kings trek weer aan die agterspeen in Afdeling B van die reeks en het net tien punte ná nege wedstryde. Hulle het geen kans om by die uitspeelwedstryde betrokke te wees nie, maar bygesê, spelers soos Bader Pretorius, Stefan Ungerer en Thembelani Bohli is ware ysters en ontwikkel al hoe meer.

Puntemakers: Cheetahs 31: Drieë: Rhyno Smith (2), Sintu Manjezi (2), Wilmar Arnoldi. Doelskoppe: Tiaan Schoeman, Ruan Pienaar (2).

Kings 30: Drieë: Bader Pretorius, Stefan Ungerer, JT Jackson. Doelskoppe: Pretorius (3). Strafdoele: Pretorius (3)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.